MOSSELBAAI NUUS - Die gemeenskap van Mosselbaai het opnuut met leedwese verneem van die dood van 'n geliefde gemeenskapsleier.
Danny Saayman is op Donderdag, 18 Februarie tydens siekverlof tuis onverwags oorlede.
Saayman was ‘n direk-verkose DA-raadslid van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit waar hy Mosselbaai verteenwoordig het.
Hy was bekend vir sy geestige geaardheid en het 'n uitgebreide vriendekring, ook in opposisie-geledere gehad. Ten spyte van sy kenmerkende gekorswel, het hy sonder skroom sy standpunt gestel en gehandhaaf.
Hy was ook geliefd as 'n oud-rugbyspeler en het uitgeblink in potspel. Die gemeenskap sal hom ook onthou as DA-aktivis en voorsitter wat in wyksraadslid Niklaas Booisen se wyk werksaam was.
Saayman was opreg trots op sy herkoms en sy vormingsjare.
Niklaas Booisen beaam dit. Hulle het jarelank saam by AfroFishing gewerk en ook saam op politieke asook rugbystrukture gedien.
"By uitstek was Danny 'n gesinsman. Hy het altyd met lof van sy vrou, sy pa en sy mense gepraat. Hy was verskriklik lief vir sy familie."
Booisen noem sy afgestorwe vriend en kollega 'n sagmoedige reus wat omgegee het vir gemeenskap en hulle met passie gedien het.
"Jy kon dit sien uit die deeglikheid waarmee hy te werk gegaan net. Hy was baie lojaal en deel van my lewe, behoorlik soos 'n kind in my huis."
“Ek het ‘n vriend verloor. Danny Saayman was ‘n plaatjie met ‘n besondere sin vir humor. Hy het diep spore in sy gemeenskap en in DA-geledere nagelaat. Ek eer sy nagedagtenis,” sê Mosselbaai se waarnemende uitvoerende burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé.
Saayman laat sy vrou, Amanda, en twee dogters agter.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'