MOSSELBAAI NUUS - Nege-en-sewentig Suid-Kaap Sages- gholfspelers het op 20 Oktober sterk winde op die Mosselbaai-gholfbaan getrotseer.
Naaste aan die penne is gewen deur Bennie Geldenhuys op putjie agt en Gert Brink op putjie 12. Pine Pienaar en Brink het ook die enigste spogtwees op putjie 12 aangeteken.
Die gholfspelers wil graag die Mosselbaai-gholfklub bedank vir die gebruik van die gholfbaan, asook 'n slaghuis van Riversdal wat met elke Sages-samekoms twee stewige pakke wors vir die naaste aan die penne skenk.
Elke jaar skenk die Suid-Kaap Sages-groep geld aan 'n behoeftige instansie, en hierdie jaar het dit aan die Albertinia-versorgingsdienste gegaan.
Dié aftreeoord doen puik werk om die bejaardes se laaste jare so aangenaam as moontlik te maak onder leiding van die bestuurder, Annelise Minnie, en haar personeel.
Die groep sien uit na hul volgende Sages-saamtrek op 17 November in Stilbaai.
Wenners op Mosselbaai: Danie Terblanche, Richard Peasy, Nic Marais (voorsitter), Pine Pienaar en Pierre le Roux.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’