Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die Mossel Bay Advertiser het verlede week oor die jonggetroude paartjie, Jurgen en Marisa van Staden wat September 2020 getroud is berig. Die paartjie se lewens is vanaf 11 November 2020 omgekeer toe Jurgen met die Covid-19-virus gediagnoseer is Sedertdien stap hulle 'n pad van onstuitbare liefde, deursettingsvermoë en erge fisieke pyn.
'n Man wat dieselfde trauma deurgemaak het is Jacques Mostert, eienaar van Signworx en vise-president van die Mac's Mosselbaai-motorfietsklub. Mostert is ook betrokke by die Mac's Ministries in die Mosselbaai-omgewing.
Hy was op 2 Desember 2019 in 'n trompop-botsing met 'n vragmotor in die Outeniquapas toe hy met sy motorfiets op pad terug Mosselbaai toe was. Mostert se regterbeen moes geamputeer word en het hy meer as vier maande 'n herstelproses deurgemaak.
"Toevallig was ek in dieselfde saal 2 waar Jurgen van Staden in die Vidamed-daghospitaal herstel het," vertel Mostert. "Ek het besoek by Jurgen en Danie van Rensburg afgelê wat beide met die Covid-19-virus gediagnoseer is. Ek het hulle bemoedig met gebed en beterskap toegewens."
Volgens Mostert is saal 2 by Vidamed 'n kamer van genesing, gebed en geloof.
Kyk 'n video hieronder:
"Dit is wat my deurgedra het in die tydperk wat ek daar was. Daardie kamer by Vidamed word baie spesiaal geag en al die pasiënte wat hulle in die kamer sit verwys hulle na my, want dis 'n positiewe boodskap vir die pasiënte daar dat daar wel hoop is en beterskap wag," meen Mostert.
Sy boodskap aan mense wat voel of hulle in hopelose situasies is, is: "Byt vas, hou aan met glo en hou aan met bid. Beterskap is definitief op jou pad. 'n Mens moet net sterk wees met jou verstand en vir jouself sê jy kan. Jy kan werklik deur enige situasie aansterk en jy kan ook deur enige situasie aanpas."
Jacques Mostert kuier by Jurgen en Marisa van Staden. Mostert het na 'n motorfietsongeluk vier maande in dié kamer gelê.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'