MOSSELBAAI NUUS - ‘n Jonggetroude paartjie het vroeër as waarop hulle dalk gereken het te make gekry met wat dit beteken om getrou te bly onder alle omstandighede. Min het Marisa van Staden (28) op haar troudag in September 2020 gedink dat haar man Jurgen (26) teen Desember in ‘n rolstoel sou beland.
Hy word steeds in die Vidamed-daghospitaal behandel nadat hy Covid-19 opgedoen het. Marisa het hulle storie met die Mossel Bay Advertiser gedeel.
Tuis versorg
Alles het met ‘n paar dae van kopseer hê begin. Die paartjie het dit afgemaak as sinus waaraan Jurgen ly, maar toe kry hy ‘n koors van 38.2 grade. Toe sy koors nie wou breek nie, het hulle huisdokter ‘n Covid-19-toets aanbeveel.
Op 11 November 2020 is Jurgen met die virus gediagnoseer. Die paartjie het dadelik tuis geïsoleer en Marisa kon eers vyf dae later laat toets. Sy het geen simptome gehad nie en haar toets was negatief. Nietemin, het sy 10 dae tuisgebly.
Tien dae later was Jurgen nog slegter daaraan toe. Hy was heeltyd moeg en kon skaars loop. Teen begin Desember, kon hy nie meer op sy eie loop nie. Hy kon al minder gebruik van sy arms en bene maak. By tye was sy bors benoud, maar hiervoor het ‘n nebuliseerder gehelp.
Op 12 Desember 2020 is hy in die Life Bayview privaat hospitaal opgeneem omdat hy te veel verswak het. Hy het begin sukkel om te praat en kon nie woorde vorm nie. Hy was vergeetagtig en het deurmekaar voorgekom.
Na etlike toetse was die diagnose ‘n skok - debilitating muscle weakness due to post Covid-19 syndrome. Die toetse het bevestig dat hy teenliggaampies teen die virus begin opbou en hy is op 15 Desember ontslaan.
Om rond te beweeg was steeds ‘n stryd. Toe verloor hy gevoel in en die gebruik van sy linkerarm en -been. Minimale gebruik van sy regterbeen en –arm het gevolg. Hy kon nie meer woorde vorm nie.
"Dit het vir 'n paar dae so gegaan waarna hy toe sy stem heeltemal verloor het. Dit het gekom en gaan. Terug vir 'n dag, dan weer weg. Ons het toe vir hom 'n doodle pad gekry waarmee hy kom kommunikeer."
Na amper twee weke het sy stem wel herstel.
Een van die grootste uitdagings, volgens Marisa, was is die fisieke aspek van die versorging.
"Waar ons bly is daar baie trappe wat ons moet uitklim. Aan die begin toe hy nog bietjie sy regterbeen kon gebruik het, het hy met 'n kruk geloop en ek het hom ondersteun. Hy was egter so moeg van die klimmery, dat dit eenvoudig net vir hom te veel geraak het om uit te gaan. Met tyd het ons 'n paar tricks geleer om dit vir onsself makliker te maak. Jurgen moes fisies in die rolstoel getel word."
Jurgen kon later nie alleen by die huis bly nie, aangesien hy twee keer geval het. Vir Marisa was dit 'n uitdaging, veral toe sy weer moes begin werk.
"Ek kan net die Here dank vir die krag wat hy vir my gegee het wat ek nie eens geweet het ek het nie, want meeste van die tyd was dit ek wat Jurgen moes oplig, draai, aantrek, stoot en soms moet optel as hy val."
Terugslag
Tuis het Marisa Jurgen help oefening doen om sy bloedsomloop aan die gang te hou. Op 5 Januarie vanjaar het ‘n plaaslike fisioterapeut hom behandel.
“Sy was baie ontsteld om te sien hoe hy agteruitgegaan het van die laaste keer wat sy hom gesien het.” Op die fisioterapeut se aandrang, het ‘n nuwe reeks toetse ‘n aanvang geneem.
Hieruit kon dokters nie veel meer wys word nie. ‘n Hospitaalopname op 20 Januarie vir meer intensiewe toetse asook ‘n kursus binneaarse medikasie, het gevolg. Met hulp van terapeute, kon hy op 23 Januarie vir die eerste keer in langer as ‘n maand regop staan.
"Hulle het geleidelik al hoe meer begin doen en na 'n paar dae se terapie kon hy klein afstande met 'n walker wat ons sy 4x4 gedoop het, begin loop. Sy kop was op die regte plek."
Volgens Marisa was die opgewondheid oor hierdie mylpaal groot omdat dit moontlik sy ontslag kon beteken.
‘n Dag nadat hy vir die eerste keer self van die deur van sy hospitaalbed gestap het, trek ‘n onuithoudbare rugpyn hom plat. Die span dokters wat hom in die Vidamed-daghospitaal behandel, het kopgekrap.
'n Verdere skandering was die enigste opsie, maar die Van Stadens se mediese fonds het vasgeskop. Alle terapie is gestaak, met Jurgen se pyn wat daagliks vererger. Sy mediese span het bymekaargekom en besluit om 'n prosedure in sy rug te doen.
'n Nuwe skandering van Jurgen se rug om met die vorige te kon vergelyk, sou daar verandering wees, was die ideaal maar vanweë die mediese fonds se weiering nie haalbaar nie.
"Die dokters het ingegaan met die vorige skandering as hulle verwysing en die prosedure het goed afgeloop."
Jurgen het uitgesien na pynvrye dae, maar slegs ure nadat hy herstel het van die prosedure, was sy pyn terug en erger as vantevore.
"Sy dokters het motiveringsbriewe geskryf sodat die medies weer 'n skandering kon goedkeur. Intussen was daar elke dag 'n nuwe uitdagings wat ons geloof, geduld en verhouding begin toets het. Ons het net besef dat hierdie terugslae ons nie kan onderkry nie en dat ons moet aanhou bid met verwagting."
Tweede skandering
In 'n wonderbaarlike antwoord op gebed, is die skandering op 15 Februarie goedgekeur.
"Die dokters en verpleegsters van die hospitaal het verbaas gestaan, want die kanse vir goedkeuring was skraal. Ons het hier weer besef dat die Here in beheer is."
Jurgen moes per amublans vervoer word omdat die toestand van sy rug onbekend was. Ook hierdie noodsaaklike diens wou die medies nie goedkeur nie en die Van Stadens moes self daarvoor opdok.
"Weer eens het die Here hier ingegryp en By Grace privaat ambulansdiens het vir ons vervoer gebied teen die absoluut minimale tarief. Dis die tweede keer dat hulle ons tegemoet kom."
Die dokters se verwagting was dat Jurgen 'n gekneusde of verbrokkelde rugkussingkie sou hê, maar die skandering het die teendeel bewys. Sy rug het niks makeer nie.
"Alhoewel hy steeds pyn in sy rug ervaar het, was dit nie nodig vir chirurgie nie."
Jurgen het stelselmatig weer begin beweeg alhoewel hy in geweldige pyn was. In hierdie tyd het hy spasmas en krampe in sy rug, asook ander liggaamlike komplikasies begin ontwikkel.
Intussen het Jurgen 'n nuwe kamermaat gekry wat ook nadat hy Covid-19 opgedoen en in die intensiewe sorgeenheid behandel is, by Vidamed verder moes herstel. Jurgen het weer begin loop met sy "4x4".
Vandeesweek, op 23 Februarie het hy 'n pynblok ontvang en kan nou met sy terapie aangaan. Vandag, 26 Februarie het hy 'n "dagpas" uit die hospitaal gekry.
Lesse geleer
“Ons het nuwe respek gekry vir mense wat rolstoelgebonde is. Ek dink nie mense besef hoe belangrik parkeerplekke vir gestremdes vir iemand in ‘n rolstoel is, totdat jy dit self moet gebruik nie.”
Covid-19 het dié jong paartjie geleer hoe lief hulle mekaar waarlik het. “As hulle tydens huweliksbeloftes sê in gesondheid en siekte, dan weet ek ons het dit bedoel. Ons het ook geleer hoe kosbaar elke oomblik saam is en dat die Here jou bo jou eie kragte dra.”Covid-19 het hulle ook weer hoop vir die mensdom gegee. “Daar is nog bittere goeie mense in ons samelewing en gemeenskap. Die wat gebid het, die wat net wou help, familie, vriende, vreemdelinge, mediese personeel. Woorde is nie genoeg om ons dankbaarheid te kan uitspreek nie.”
Jurgen het 'n inskrywing op Facebook geplaas waarin hy Marisa bedank vir die eggenoot was sy is.
"Hy het 'n bietjie agtergrond oor ons situasie oor gegee. Nooit het ons gedink dat mense so positief daarop gaan reageer nie en dat dit eintlik baie mense bewus sou van die nagevolge van Covid 19."
Marisa praat met lof van Jurgen. "Sy geloof, positiwiteit en uithouvermoë is iets wat mens nie kan beskryf nie. Hy is 'n voorbeeld vir enige jongmens, man, broer en seun. Hy is een uit 'n miljoen en hy is my een. Ek is oneindig lief vir hom en kan nie wag om te sien wat ons paadjie vorentoe vir ons saam inhou nie."
Sonder Marisa, sou Jurgen dalk nie sover op sy herstelpad kon wees nie.
Uit sy hospitaalbed, skryf hy: "My vrou staan by my deur als. Haar eerste woorde aan my toe ek vir haar gesê het ek kan nie loop nie was, 'ek is hier, ek gaan nêrens nie'. Ek sou dit nie sover gemaak het sonder my vrou nie. Sy beteken die wêreld vir my en is my rots deur die hele gebeurtenis."
Die Van Stadens is 'n paartjie wat kan praat van beproewing hanteer, nog voor hulle wittebroodfase behoorlik verby was.
Jurgen voor hy Covid-19 opgedoen het. Hy is 'n lid van die Mosselbaai-polisiestasie.
Jurgen met sy "4x4" op 26 Februarie toe hy 'n "dagpas" uit die hospitaal kon kry.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'