MOSSELBAAI NUUS - Vroegoggend op Saterdag, 2 November, was Chris Horn senior en sy vrou, Angelique, van Boggomsbaai op pad na 'n begrafnis toe hulle op 'n ongelukstoneel afkom.
Min het hulle geweet dis hul seun, Chris Horn junior, of CJ soos hy algemeen bekend is, wat in dié ongeluk betrokke was.
Die 24-jarige CJ speel haker vir die Mosselbaai Rugbyklub en hy het die vorige aand die Marlyne se prysuitdeling bygewoon.
CJ het volgens sy pa vroeg Saterdagoggend eers by die Engen-vulstasie gestop om brandstof vir sy voertuig in te neem. "Soos ek verstaan het net 'n entjie weg van die huis agter die stuurwiel aan die slaap geraak waarna die ongeluk gebeur het," het Horn senior gesê.
Die motor het van die pad geloop, gerol en in die veld beland. Die boer van die plaas waarop die motor tot stilstand gekom het, het Horn senior ingelig dis sy seun wat in die ongeluk betrokke was.
CJ was deur mediese personeel op die toneel na die Life Bay View-hospitaal geneem.
"Ek was geweldig geskok. Maar gelukkig het ek kop gehou. Omdat daar baie brandstof uit die motor gelek het, was ons eerste prioriteit om dit te stop om 'n brandgevaar te neutraliseer. Dit kon ons regkry. CJ het vir my gesê dat hy geen gevoel in sy bene het nie. Ek het hom bygestaan en gesê ons moet vir die paramedici wag," het Chris senior vertel.
Met die paramedici se aankoms is CJ gestabsliseer voor hy na die Life Bay View Privaat-hospitaal vervoer is. Hy is met 'n geperforeerde long, bloeding in die niere, drie breuke in sy nek, asook 'n paar gebreekte ribbes en 'n seer skouer opgeneem.
Chris Horn junior. Foto's: Chris Horn senior
Van Mosselbaai is hy na die George provinsiale hospitaal oorgeplaas waarna hy op Dinsdag, 5 November, per lugvervoer na Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad geneem is waar sy hegte gesin hom ingewag het.
Volgens Horn senior is die meeste familielede nog erg in skok. 'n WA-groep is gestig om familie en vriende op hoogte te hou van sy vordering.
KwaNonqaba-polisiestastie het 'n saak van roekelose en nalatige bestuur oopgemaak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’