Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - ‘n Terugkeer na die beginsel dat die mens ‘n inherente behoefte het daaraan om deel te wees van iets groter as hom- of haarself, is moontlik deel van die oplossing vir ‘n klomp vraagstukke.
Só meen Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid wat vanoggend dié burgerregte-organisasie se Veg- en Bouweek op Mosselbaai tydens ‘n ontbyt geopen het.
Roets het sy argument begin by die wortels van die Westerse samelewing wat uit konsepte binne die antieke Griekse diskoers spruit. Hiervolgens, het die filosoof en denker Plato aangedui dat die menslike siel uit drie fasette bestaan wat die intellek, behoeftes en begeertes insluit, maar ook ‘n geestelike aspek.
Hierdie aspek, om in breë trekke selfopofferend te wees ter wille van die groter prentjie, meen Roets het deur die eeue en soos die mensdom ontwikkel het, agterweë begin bly. Met die fokus op denke en begeertes, het die politiek van identiteit begin ontwikkel.
Roets het uitgebrei oor verskeie wêreldgebeure wat die bestaan van natuurlike gemeenskappe onder druk geplaas en laat verbrokkel het.
FOTOGALERY: Ernst Roets van AfriForum op Mosselbaai
Hy meen, in ooreenstemming met ander kundiges onder meer die Amerikaanse politieke wetenskaplike en skrywer, Francis Fukuyama, dat onder meer die Westerse samelewing, ‘n groter hoop op volhoubaarheid sou hê indien die daar weer meer gefokus word op die opbou van gemeenskappe.
Dít, deur middel van die fokus op iets groters as net die self of die individu.
“Ons het baie uitdagings, maar ons is nie meer soekend nie. AfriForum het oplossings ontwikkel vir kwessies wat talle gemeenskappe nog nie teëgekom het nie. So het AfriForum byvoorbeeld self begin patrolliery om veiliger omgewings te skep en ‘n universiteit gebou om tersiêre behoeftes aan te spreek. Talle gemeenskappe in die Westerse wêreld dink egter steeds dat die staat die oplossing vir hulle probleme is.”
VIDEO: Roets open AfriForum se Veg- en Bouweek op Mosselbaai
Roets het gesê dat een van die organisasie se grootste voordele is, dat hulle met alle groepe in gesprek tree.
“Ons beveg nie propaganda met propaganda nie. Ons wil dit doen deur data. Uiteindelik dra ons interkulturele samewerking baie meer gewig.”
Roets het dit duidelik gestel, dat AfriForum se werk nie op die volgende verkiesing gerig is nie, maar op die volgende generasie.
Roets is môre, 26 April die gesprekleier tydens ‘n veiligheidsberaad by die Diaz Hotel. Die Veg- en Bouweek, wat ook gesprekke oor die ekonomie en outonomie, sowel as verskeie pretdae vandeesweek insluit, loop Saterdag, 30 April ten einde.
Lees meer oor die program hier.
Foto's: Cornelle Carstens
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'