Update
MOSSELBAAI NUUS - Nog geen arrestasies is gemaak in verband met die besigheidsrooftog wat op Sondagaand, 14 Maart net na 21:00 by 'n gewilde restaurant in die Hartenbos Seefront plaasgevind het nie.
Volgens inligting verskaf deur die Da Gamaskop-polisie het die rooftog kort na 21:00 by Piza É Vino plaasgevind toe vier onbekende mans die restaurant betree het.
Een van die verdagtes het 'n vuurwapen op die bestuurder, 'n 33-jarige vrou gerig en haar gedwing om 'n groot kontantbedrag aan hom te oorhandig. Die verdagtes het ook 'n selfoon gebuit en daarna op die vlug geslaan.
Kommunikasiebeampte van die Da Gamaskop-polisie kapt Wollie Fourie sê dat videomateriaal van die voorval toon hoe 'n wit Toyota Quantum-bussie met ses insittendes kort voor die rooftog in Seefront se parkerterrein stop.
"Een persoon bly in die voertuig, 'n ander lyk of hy die pad dophou en vier verdagtes het die restaurant betree. Die registrasienommer van die voertuig is nie sigbaar op die videomateriaal nie," verduidelik Fourie. Die verdagtes het na die rooftog met dieselfde voertuig op die vlug geslaan.
Denise Lloyd, sentrumbestuurder van die Hartenbos Seefront het by navraag oor die voorval gesê dat beide Ocean Basket en Spur ten tye van die rooftog nog oop was. Volgens haar waarneming het die verdagtes die restaurant doodluiters binnegestap. "Dit het voorgekom of hulle presies weet wat hulle doen."
Lloyd het besoekers aan die Hartenbos Seefront se vrese dat die sentrum nie veilig is nie besweer.
"Ons het 24-uur-seku-riteit op die perseel. Ons vertrou hierdie was 'n eenmalige, opportunistiese misdaad. Dit herinner ons almal egter maar net weer daaraan dat ons ons paraatheid moet opskerp."
In enkele wenke wat die polisie aan slagoffers van 'n rooftog gee, word gespesifiseer dat besighede spesiale voorsorg moet probeer tref teen oop- en veral toemaaktyd, wanneer misdadigers graag toeslaan.
"Dit is raadsaam om ten spyte van die spanningsvolle situasie te probeer ontspan deur jou asemhaling te beheer. Moenie die rowers direk in die oë kyk, vinnige bewegings maak of enigsins probeer om jou teë te sit nie. Dit is belangrik om nie 'n sirene of alarm tydens die rooftog te aktiveer nie en om die rowers tyd te gee om weg te kom."
Die Da Gamaskop-polisie versoek enige persoon wat inligting oor die voorval het, om kontak te maak met ao Richard van Eyck (044 606 2218). 'n Beloning word uitgereik vir inligting wat tot 'n arrestasie kan lei.
Vorige artikel: Gewapende rooftog teiken gewilde seefront-restaurant
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'