Video
GLENTANA NUUS EN VIDEO - Raar, maar waar. Dit is kenners se mening oor 'n luiperd wat op die treinspoor in Glentana gewaar is.
Beeldmateriaal van die luiperd, vermoedelik 'n jong mannetjie, is onlangs op 'n sekuriteitskamera van die Glentana-buurtwag vasgevang.
Cape Nature het die afgelope week aan die Advertiser bevestig dat die beeldmateriaal, wat wyd op sosiale media versprei word, inderdaad die oorsponklike beeldmateriaal is.
Johan Marais van Eden Distrik Sekuriteit het die kamera 'n jaar en 'n half gelede geinstalleer en monitor die beeldmateriaal in samewerking met die Glentana-buurtwag.
Die beeldmateriaal wys hoe ‘n luiperd doodsluiters op die spoor stap. Die beeldmateriaal is op 31 Maart om 05:16 geneem.
Kyk die video hieronder:
Marais is reeds etlike jare by teenstroping betrokke en sê daar is geen rede vir inwoners om bekommerd te wees nie. “Dit is ‘n verskriklike skaam dier. Die kameras is al maande in die gebied en hoewel ons gereeld wilde diere sien, is dit die eerste keer wat ons ‘n luiperd op die kamera sien.”
Marais sê die kanse dat ‘n pofadder iemand op die treinspoor sal pik, is groter as wat iemand die luiperd sal raakloop.
Woordvoerder van Cape Nature, Petro van Rhyn sê die luiperd kom natuurlik in die gebied voor. “Daar was al voorheen tekens van luiperdspore op Mosselbaai aangemeld en die teenwoordigheid van luiperd is al tussen Glentana en Mosselbaai waargeneem.”
Van Rhyn sê die Kaapse luiperd is kleiner as die luiperd wat in die laeveld voorkom en dat sy prooibasis dus ook kleiner is. “Hulle is skugter diere en sal normaalweg wegbeweeg wanneer hulle versteur word.” Marais sê dit is rare beeldmateriaal, maar inderdaad waar.
'Ons bring jou die nuutste Glentana, Tuinroete nuus'