MOSSELBAAI NUUS - Na aanleiding van 'n berig in die Mossel Bay Home Ads News van 29 Oktober waarin 'n egpaar van Danabaai onderneem het om geld in te samel deur op 5 November pannekoeke buite die Fraaiuitsig Pick n Pay te bak en verkoop, kan hulle met trots aangekonding dat hulle saam met die verkope en donasies byna R20 000 ingesamel het. Volgens André en Ann du Toit het hulle gesien hoe plaaslike boere water by die Fraaiuitsig Pick n Pay kom koop.
Na 'n geselsie met van die boere het hulle agtergekom dat daar menige boere van die omgewing is wat ook gebuk gaan onder die droogte en baie swaar trek.
Met hulle 'n fondsinsamelingspoging het hulle bo verwagting geld ingesamel.
Volgens André gaan hierdie geld aangewend word vir die vervoer van die water. André en Ann se hulpprojek was een van vele om die knellende droogte te help verlig.
Daar is boere in die Mosselbaai-omgewing en inwoners van klein gemeenskappe wat glad nie water het nie en 'n noodroep op Mosselbaaiers om te help, het vrugte afgewerp.
'n Konvooi vragmotors, bakkies, brandweerwaens en selfs 'n gevangenistrok met sowat 180 000 liter water aan boord het op Donderdag, 7 November vanaf die brandweerstasie in Mosselbaai vertrek na plaaslike gemeenskappe waar die waternood kritiek is.
Mosselbaai het nasionale nuus gehaal danksy die suksesvolle waterprojek.
Plaaslike besighede, buurtwagte, Mosselbaai brandweer, die gevangenisdiens, hulporganisasies, skole en die publiek het saamgestaan om hierdie projek te laat slaag. Die Mosselbaai-munisipaliteit het die projek gekoördineer.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'