MOSSELBAAI NUUS - Dié onderwyser het van ’n skaam tweedejaarstudent wat haar gedigte net vir een persoon lees in ’n gepubliseerde skrywer en nou ook liedjieskrywer ontaard.
Madelie du Preez is al vir nege jaar deel van die span by Hoërskool Punt waar sy Afrikaans as vak aanbied.
Haar liedjieskrywerspad het begin toe die bekende plaaslike sanger, Vernon Ericson Barnard, ’n gedig van haar op Facebook gesien het.
“Ek het die gedig ‘HOOP’ laasjaar op my skrywer-blad geplaas. Ek het dit toe op die plaaslike groepe in die Tuinroete ge-share. Vernon het op my gedig afgekom en gevra of hy die gedig in ’n liedjie kan omskep.
“Néé, nie nou nie,” het sy eers gedink, maar in Oktober van plan verander. “Ek het besluit basta met dit en het hom weer genader - en die res is geskiedenis.”
Du Preez sê “HOOP” gaan oor dankbaarheid. “In hierdie wêreld is daar soveel seer. Ons probeer mekaar so te impress dat ons die klein dingetjies in die lewe miskyk. Ons soek orals aanvaarding en wonderwerke op verkeerde plekke. Maar jy is die perfekte wonderwerk! God het jou na sy beeld geskape! Jy is genoeg!”
Soos mens van die titel ‘gepubliseerde skrywer’ kan aflei, is “HOOP” natuurlik nie haar eerste skryfwerk nie. Haar twee boeke, Sekondes Tel en Ebony and Ivory, is onderskeidelik in 2022 en 2023 deur Malherbe Uitgewers gepubliseer. Tóé was sy nog Madelie Broodryk.
Met gedigte, vertel sy, het sy eintlik in haar tweede jaar ernstig begin. “My inspirasie was die lewe rondom my. Die hartseer, blydskap en dankbaarheid.”
In ’n paar woorde opgesom sê Du Preez sy lyk só: “Ek is eintlik ’n introvert. Ek maak die beste van elke dag. Ek het ook geleer om vreugde in klein dingetjies te vind.”
Sy spot en vra of daar ’n lewe buite die onderwys is, maar sê daar is darem ’n hele paar dinge wat haar vrye tyd in beslag neem. “Ek geniet dit in die natuur. Om op die strand te gaan stap of te gaan draf. Ek spandeer graag tyd met my man, Zach, en my familie. Dis geskenke reg uit God se hand!”
“HOOP” is op beide skrywer en sanger, Madelie du Preez of Vernon Ericson Barnard, se Facebook-profiele beskikbaar om te luister.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’