Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEOS - Die Premier van die Wes-Kaapse provinsiale regering, Helen Zille en haar uitvoerende bestuur het Dinsdag op Mosselbaai 'n koördineringsvergadering met die burgemeesters en munisipale bestuurders van al die plaaslike owerhede in die provinsie gehou.
Verskeie interessante onderwerpe was op die byeenkoms se agenda en die premier en ministers het verskeie projekte en leierskapskwessies onder die loep geneem. Daarna het die onderskeie ministers projekte en gemeenskappe persoonlik besoek en met gemeenskappe oor verskeie kwessies in gesprek getree.
Premier Helen Zille het benadruk dat dienslewering en plaaslike kwessies altyd kiesers, selfs in die geval van nasionale verkiesings beïnvloed. Tóg, het sy benadruk, is dit uiters belangrik om die skeidslyn tussen regering en partypolitiek baie streng te handhaaf. Sy het ook klem gelê op die noodsaak om die gevolge van korrupsie te bestuur en aan te spreek.
Die byeenkoms het veral gefokus op huidige kwessies wat regering en veral die komende verkiesing, veral effektiewe en etiese leierskap raak. Innoverende toerisme-inisiatiewe is ook toegelig.
Stadsgryp en grondbesettings
In die tydgleuf waarin die groep op etiese leierskap, aanspreeklikheid en volhoubare bestuur gefokus het, het dr Chrispiann Olver, die outeur van die boek How to steal a city, sy insigte vanuit die binnekring oor wat in Nelson Mandelabaai gebeur het met die groep gedeel.
Olver se boek is 'n eerstehandse ervaring van die wyse waarop state capture op munisipale vlak toegepas is; 'n mikrokosmos van wat op nasionale vlak aan die gebeur was.
Hy het dan ook waardevolle advies gedeel oor waarop plaaslike owerhede ag moet slaan om stadsgrype te voorkom.
Die Premier van die Wes-Kaap, Helen Zille, en lede van haar uitvoerende komitee saam met die uitvoerende burgemeester van Mosselbaai, raadsheer Harry Levendal en munisipale bestuurder, Adv Thys Giliomee tydens die premier se kwartaallikse koördineringsvergadering. Foto: Nickey le Roux
Tydens 'n onderhoud met die Mossel Bay Advertiser het Olver, 'n mediese dokter sy kommer uitgespreek oor die jongste gebeure in Nelson Mandelabaai, 'n plaaslike owerheid waar hy in opdrag van Pravin Gordhan, toe minister van plaaslike owerheid, korrupsie moes beveg.
Hy het sy kommer oor die jongste koalisieregering uitgespreek, juis weens sy vorige ervaring van die nuutverkose burgemeester, die UDM se UDM's Mongameli Bobani. Tydens groepbesprekings is onder meer gevallestudies en wenke gedeel oor voorvalle van grondgrype en grondbesettings op beide munisipale en privaateiendom. Verskeie kenners, onder meer wetstoepassers het hul ondervinding van die effektiewe hantering van grondbesettings binne munisipale verband oorgedra.
Die hantering van dié probleem binne die bestaande wetlike raamwerke is as 'n prioriteit hanteer en gedagtes is uitgeruil oor hoe grondhervorming en grondbesetting op munisipale vlak meer positief bestuur kan word.
Kyk 'n video hieronder:
Tegniese resessie
"Onteiening van grond sonder vergoeding sal rampspoedige gevolge hê vir gemeenskappe en vir die ekonomie van Suid-Afrika," het die minister van finansies, dr Ivan Meyer gesê. Kort na hierdie stelling het dit geblyk dat Suid-Afrika tegnies in 'n resessie versink het.
Minister Meyer het spesifiek verwys na die ervaring van grondonteiening sonder vergoeding op die ekonomie van Venezuela, waar grootskaalse armoede en selfs openbare onrus op die verandering van hul grondwet gevolg het.
Internasionale verhoudinge
Minister Meyer het ook na Mosselbaai as 'n baie goed-bestuurde munisipaliteit verwys en genoem dat hy eersdaags 'n afvaardiging, wat verteenwoordigers van Mosselbaai-munisipaliteit sal insluit, na Indonesië sal lei om veral handelsbande en beleggingsmoontlikhede te ontgin.
Die Premier van die Wes-Kaapse provinsiale regering, Helen Zille, het Dinsdag 'n koördinerende vergadering het die burgemeesters en munisipale bestuurders van al die munisipaliteite in die provinsie op Mosselbaai gehou.
Die belangrikheid van goeie samewerkende regering tussen die verskillende vlakke van regering en die rol van elk van die rolspelers in plaaslike owerheid is onder die loep geneem. Daar was ook geleentheid om infrastruktuurprojekte in die streek in perspektief te plaas om te verseker dat doelgerig by die gestelde doelwitte gehou word.
Kyk 'n video hier:
Infrastruktuur
Die minister van vervoer en openbare werke, Donald Grant sê die provinsie spandeer R3.558 miljard aan padopgraderingsprojekte in die Wes-Kaap, en dat daar steeds uitdagings bestaan om veral die grondpaaie in die provinsie op te gradeer.
Die Premier se koördineringsforum vind kwartaalliks plaas om te verseker dat effektiewe samewerking tussen die provinsiale regering en munisipaliteite gehandhaaf word en selfs verbeter.
Kyk 3 video's hieronder:
Lees 'n vorige artikel hier: Premier vergader met munisipaliteite
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'