MOSSELBAAI NUUS - Na die onlangse onluste naby Powertown op die N2 is 'n vergadering tussen die Mosselbaai-munisipaliteit en lede van dié gemeenskap gehou.
Volgens die munisipaliteit het die munisipale bestuurder, Colin Puren, burgemeester, Dirk Kotzé, en direkteur van gemeenskap veiligheid, Graeme Lategan, op 4 April 'n uitnodiging aanvaar om met 'n gemeenskapskomitee in Powertown te vergader.
Cedric Jansen is die voorsitter van dié komitee.
Jansen sê die vergadering het oor die pad vorentoe gegaan en die gemeenskap was reguit met die munisipale verteenwoordigers.
"Die gemeenskap wil niks van vloedlyn of van Sonskyn[vallei] hoor nie. Die burgemeester se reaksie was dat daar 'n opsie is waarna gekyk kan word, maar die opsie moet eers deur die minister se kantoor ondersoek word. Nou wag ons vir terugvoering van sy kantoor vir ingryping," sê Jansen.
Volgens die munisipaliteit was die resultate van die bespreking 'n betekenisvolle skakeling rakende griewe wat die komitee voorgelê het.
Die Mossel Bay Advertiser het oor die afgelope paar jaar talle kere oor die situasie in Powertown berig. Dit het berigte oor talle optogte, nuwe behuising in Sonskynvallei vir inwoners van Powertown en meer ingesluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’