MOSSELBAAI NUUS - 'n Polisiebeampte van Groot-Brakrivier, Gavilan Green (34) wat op Donderdag, 15 April in 'n botsing op die Friemersheimpad dood is, was bekend vir sy positiewe geaardheid.
Green het al verskeie kere met die Mossel Bay Advertiser gesels, veral nadat hy sy voet in 2016 in 'n motorongeluk verloor het.
Hy was lief daarvoor om ander te motiveer en het na die ongeluk weer die lewe voluit aangegryp. Green was bekend daarvoor dat hy sy kollegas en ander graag wou motiveer.
Hy het ook voor sy dood 'n afspraak met die Advertiser gemaak, en sou die afgelope week met die Advertiser ontmoet om oor sy lewenspad te gesels en om ander te motiveer om positief te bly, te midde van die impak wat Covid-19 op die samelewing tot dusver gehad het.
Die 34-jarige konstabel het op die dag van die ongeluk om ongeveer 07:00 met sy Ford Ranger in die rigting van Groot-Brakrivier gery toe hy teen 'n broodafleweringsvoertuig gebots het. Hy was nie aan diens nie. Na wat verneem word, was hy na sy ma, Zenever wat op Wolwedans woon, onderweg.
Sy suster se twintigjarige seun was saam met hom in die bakkie en het die voorval oorleef.
Die bestuurder en sy passasier van die ander voertuig is met veelvuldige beserings na 'n hospitaal geneem. Dit is nie bekend of hulle al uit die hospitaal ontslaan is nie.
Die polisie ondersoek steeds die voorval en 'n saak van strafbare manslag word ondersoek. Polisiekommunikasiebeampte, sersant Laurianne Botha sê daar was digte mis in die gebied op die oggend van Green se dood.
Green laat vyf kinders agter. Hy was ongetroud. Sy ma, Zenever het aan die Advertiser gesê sy is stukkend oor sy dood. "Hy was 'n wonderlike man en 'n goeie pa vir sy kinders."
'n Roudiens word op Saterdag, 24 April by Zenever se huis in Daffodillaan, nr 3978 op Wolwedans gehou.
Die kerkdiens word daarna om 10:00 by die VGK op Groot-Brakrivier gehou.
"Ons het 'n goeie vriend en kollega verloor," sê Botha.
Verwante artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'