Update
MOSSELBAAI NUUS - Lamlani Booi (35) 'n inwoner van Kraaifontein in die Kaap, is op Woensdag, 25 Oktober in die Hooggeregshof op Mosselbaai skuldig bevind aan die moord op 'n boer van Hartenbos, Freddie Tolman (56).
Tolman is op 17 Desember, 2014 op sy plaas, Outeniquabosch doodgeskiet.
Regter Robert Henney het Booi ook skuldig bevind op vier ander aanklagte teen hom, wat insluit twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede en twee aanklagte van die onwettige besit van 'n vuurwapen en ammunisie.
Booi, wat deur staatsaanklaer, Christénus van der Vijver as 'n "intelligente mens" beskryf is, en vir drie jaar aan 'n universiteit studeer het, het tydens sy verhoor volgehou dat hy onskuldig is op al die aanklagte teen hom.
Booi is verbind met die moord op Tolman deur middel van selfoondata wat hom met die tyd van die moord asook die toneel verbind.
Sy vingerafdrukke is ook gevind op 'n Chevy Spark-voertuig wat kort na die moord op die R328-pad gekaap is.
Vingerafdrukke van Booi wat aan die binnekant van kleefband gevind is, wat tydens 'n gewapende rooftog in 2015 by die Mosselbaai-gholfklub gebruik is om slagoffers mee vas te bind, verbind hom ook met dié voorval.
Die ondersoekbeampte in die Tolman-saak, adjudant-offisier Richard van Eyck van die Da Gamaskop-polisie se speurafdeling.
Die staat het tydens die verhoor 13 getuies geroep.
Booi het ook getuig en alhoewel hy erken het dat dit wel sy vingerafdrukke op die voertuig én die kleefband is, ontken hy dat hy by die misdade betrokke was.
Uitspraak en briewe
Tydens uitspraak het Henney dit aan Booi gestel dat hy "kat-en-muisspeletjies" met die hof gespeel het.
Henney het gesê dat selfs die mees naïewe persoon nie Booi se weergawe sal glo nie.
Henney het Booi opgesom as 'n swak getuie en sê Booi het nie 'n goeie indruk op die hof gemaak nie.
Henney het gesê Booi se weergawe, dat hy wel in die omgewing van die moord- en kapingstoneel was nadat hy saam met vriende gekuier het, is hoogs onwaarskynlik.
"Dit is ook vreemd dat jy kan onthou waar en met watter hand jy twee jaar gelede aan 'n voertuig geraak het."
Die Tolman-gesin, Mariana en haar twee seuns, Eugene en Rudolph is by die hof deur familie ondersteun.
Van der Vijver het na afloop van die uitspraak briewe van die Tolmans voorgelees wat die donker prentjie uitbeeld wat hulle as 'n gesin na die dood van Freddie steeds beleef.
Beide seuns sê hulle vrees elke dag vir hulle lewens. Die seuns en Mariana sê hulle moes na Freddie se dood op die besigste tyd van die jaar skielik alleen met die slagpale en boerdery aangaan en dat daar nie tyd was om oor Freddie te rou nie.
Mariana het in 'n emosiebelaaide brief gesê dat haar lewe van 'n normale en gelukkige een, na een van hartseer en eensaamheid verander het.
"Die vrae maak 'n mens mal. Wat was die motief? Wat het die oggend gebeur? Die vrae is eindeloos met geen antwoorde. Ek wonder wat weet die mense (verdagtes) alles van ons? Die plaas en huis was altyd ons veilige hawe.
Mariana en Freddie Tolman
"Ons het hard gewerk om die plaas op te bou. Al die mooi en lekker tye is vernietig. Die dag van Freddie se moord moes ons net aangegaan het soos elke ander dag.
"Die varke het geskree vir kos. Die krale was vol vee. Ek kon nie treur oor my man se dood nie."
In die brief skryf Mariana, Freddie het 'n lewensfilosofie gehad: "Die lewe is 'n lied. Ons het dit saam met hom geleef tot dit op 'n vals noot geëindig het."
Van der Vijver het dit aan regter Henney gestel dat dit hom dronkslaan dat iemand met soveel geleenthede soos wat Booi gehad het, die pad van misdaad kies.
"Ons weet nie hoekom hy besluit het om dié pad te kies nie. Hy het nie die hof in sy vertroue geneem nie."
Nadat Henney uitspraak gelewer het, het hy dit aan Booi gestel, dat hy steeds die geleentheid het om eerlik met die hof te wees en berou vir sy dade te toon en dat sy eerlikheid 'n invloed op die vonnis kan hê wat die hof hom sal oplê.
Booi het egter aangedui dat hy niks te sê het nie.
Die ander verdagtes in die moord op Freddie Tolman is steeds op vrye voet en die motief vir die moord, is steeds nie bekend nie.
Op Donderdag, 26 Oktober het regter Henney die veroordeelde Booi se vonnis soos volg opgelê:
- lewenslangegevangenisstraf op 'n aanklag van moord;
- vier jaar gevangenisstraf wat saamgevoeg is vir vonnisdoeleindes op twee aanklagte van die onwettige besit van 'n vuurwapen en ammunisie;
- 15 jaar gevangenisstraf op 'n aanklag van roof met verswarende omstandighede vir die kaping van die Chevy Spark en 15 jaar gevangenisstraf vir die gewapende rooftog by die Mosselbaai-gholfklub.
Lees vorige artikels:
- Plaasmoord: man skuldig op 5 aanklagte
- Staat sluit saak in moord op boer
- Boer se moordsaak weer voor
- Boer se vermeende moordenaar in hof
- Vermoorde boer se vrou getuig
- Verdagte in plaasmoord in hof
- Plaasmoord: verdagte in hof
- Plaasmoord: 'n jaar later
- Boerse moord: "Ek mis hom elke dag"
- Opvolg: Nog geen arrestasie ná moord op boer
- Bekende boer sterf in plaasaanval
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'