MOSSELBAAI NUUS - Danabaaiers het vandeesweek geskiedenis gemaak toe huiseienaars in 'n aanlynpeiling hul voorkeur vir 'n alternatiewe toegangspad vir dié woonbuurt kon laat blyk. Sover vasgestel kon word, was dit die eerste keer dat 'n munisipale webwerf as deel van 'n openbare deelnameproses vir 'n aanlynpeiling gebruik is.
Huiseienaars van nie net die groter Danabaai nie, maar ook Pinnacle Point, Fynbos Aftree-oorde, Paradise Coast en die Mosselbaai Aftree- en Leefstyloord kon aan 'n aanlynpeiling oor die beplande alternatiewe toegangspad 'n voorkeur lug.
Die ander woongebiede is by die peiling ingesluit omdat een van die alternatiewe op hul inwoners 'n impak mag hê.
Resultate
Toe die peiling om 21:00 op Woensdag, 24 Julie sluit, is volgens aanvanklike syfers 1 648 keuses vasgelê en het die oorgrote meerderheid van 1 264 hul steun aan Opsie A; die verlenging van Floraweg tot by 'n aansluiting met die N2 by die Herbertsdale-kruising toegesê. Opsie B; die verlenging van Floraweg om by Apiesdoringstraat in Heiderand aan te sluit, het die steun van 384 huiseienaars geniet.
Die resultate van hierdie peiling, asook die formele verslag oor die lewensvatbaarheid van die twee alternatiewe roetes wat in opdrag van die munisipaliteit deur kundiges opgestel is, sal uiteindelik voor die munisipale raad dien vir 'n finale besluit wat in die beste belang van alle belastingbetalers geneem sal word.
Die peiling, 'n inisiatief van die die plaaslike raad en munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee, spruit uit 'n oorweldigende mandaat wat die gemeenskap aan die munisipaliteit gegee het om 'n alternatiewe toegangsroete vir Danabaai te ondersoek.
Internetprobleme
Die peiling, wat oor drie dae gestrek het, is amper in die wiele gery toe heelwat inwoners se internetverbinding vroeg Woensdag onderbreek is. Volgens terugvoering is probleme met kabels ondervind en tegnici is van vroegoggend in die area opgemerk waar hulle die herstelwerk gedoen het.
Die munisipaliteit het egter rekenaars en WiFi-verbinding by die Danabaai-gemeenskapsaal beskikbaar gestel om diegene wat nie oor rekenaars beskik nie of enige ander hulp benodig het, by te staan. Volgens terugvoer het heelwat inwoners van hierdie geleentheid gebruik gemaak en het 'n feestelike atmosfeer by die saal geheers.
'n Kundige beampte was ook byderhand om inwoners se vrae en bekommernisse te hanteer.
Frustrasie
By herhaling is Danabaaiers se toeganklikheid, aanvanklik deur veldbrande, toe weens klipgooiery op Louis Fourieweg en ook deur herhaalde onluste in die onlangse verlede van die res van die dorp afgesny. Dit is egter veral voorvalle van klipgooiery, wat sporadies voorkom en die geweldadige onluste wat sedert Junie 2018 inwoners tot die woongebied ingeperk het, wat groot frustrasie veroorsaak het.
In 2017 is tydens 'n openbare vergadering oor veiligheidskwessies reeds aangevoer dat die bestaande toegang vanaf die verkeersligte op Louis Fourieweg via Floraweg uiteindelik verlê sal word om by Crotzstraat aan te sluit.
Tydens 'n opspraakwekkende openbare vergadering einde Julie 2018 het meer as 300 ontstoke Danabaaiers wat selfs gedreig het om munisipale personeel gyselaar te neem, die munisipale bestuurder en wyksraadslid Marie de Klerk die mandaat gegee om ondersoek in te stel na 'n alternatiewe, addisionele toegangsroete vir Danabaai. Die munisipale bestuurder het op die koste-implikasie en begrotingsimplikasies gewys en onderneem dat die nodige ondersoeke vir die twee alternatiewe in die huidige boekjaar gedoen sal word en dat, na afloop van daardie ondersoeke, die gemeenskap se mening oor die alternatiewe getoets sal word.
Verslag
Teen einde Junie het die konsultante, SMEC 'n verslag oor die uitvoerbaarheid en lewensvatbaarheid van die twee voorgestelde alternatiewe roetes aan die munisipaliteit voorgelê. Opsie A, waar Floraweg by die N2 by die Herbertsdale-kruising aansluit, sal na raming R20.815 miljoen beloop. Opsie B, waar Floraweg verleng word om by Apiesdoringstraat in Heiderand aan te sluit, sal ongeveer
R 21.735 miljoen kos.
Ongeag watter alternatief uiteindelik geïmplimenteer word, sal dit uiteindelik meebring dat Danabaai oor twee toegangsroetes sal beskik.
Ronea Maart, Carl Carelse en Siphiwo Landzela het Danabaaiers gehelp met die aanlyn peiling.
Lees 'n vorige artikel hier: Dana Bay access route poll results
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'