Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Pniël Educare and Aftercare in Asla Park het verlede week onder die vreugdevolle geklank van die Advent-blaasorkes hulle voltooide gebou amptetlik in gebruik gemeen.
Só was Woensdag, 8 Junie,'n besonderse mylpaal vir pastoor Jennifer Saal wat 'n lank gekoersterde droom met die amptelike opening van die sentrum bewaarheid het.
Morné Petersen, bestuurder van Eden FM was die programleier. Luisteraars was ook deel van dié besonderse geleentheid waarvandaan Eden FM regstreeks uitgesaai het.
Petersen het genoem dat Saal se passie die groot dryfkrag agter die sentrum is en het haar geloof vir haar deursettingsvermoë om die voltooiing daarvan ten spyte van talle struikelblokke deur te sien.
Vele rolspelers
Ds Paul Lubbinge het tydens die skriflesing en gebed verduidelik dat die naam Pniël "aangesig van die Here" beteken en daarom die hoop uitgespreek dat die kinders by die sentrum veral in hulle Christelike geloof gesterk sal word.
In sy toespraak het die uitvoerende burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé genoem dat die huurkontrak met die sentrum in 2021 verleng is en dat daar ook 'n addisionele stukkie grond bygevoeg is om as speelplek vir die kinders te dien.
"Dit is vir ons wonderlik as raad om die positiewe dinge te sien wat in die gemeenskap gedoen word. As ons as 'n raad 'n klein rolletjie daarin kan speel om hier toe by te dra, doen ons dit graag."
Kotzé het uitgebrei oor leierskap en hoe elkeen sy of haar gawes en talente kan aanwend om by te dra tot die groter prentjie.
"My uitdaging aan elkeen vandag is om te gaan sit en dink hoe hul gawes ontsluit en benut kan word om ander te dien en 'n tasbare bydrae tot die gemeenskap te lewer.
Dr Job Ubbink van Bold Moves, een van Pniël se medewerkers was ook onder die sprekers. Bold Moves het in 2021 by die sentrum betrokke geraak en Ubbink noem hoe Saal se vasberadenheid hom beïndruk het.
"Pastoor Saal het my laat dink aan Arthur Ash, die Amerikaanse tennisspeler wat hom onderskei het ten spyte van vele uitdagings. Sy slagspreuk was start where you are, use what you have and do what you can. Dit som pastoor Saal se werk in Asla op."
Pastoor Jennifer Saal saam met haar dogter Kadeega en Saal se eggenoot, Samuel.
Professor Flip Buys van Docenda het in sy spreekbeurt verduidelik hoe sy organisasie by die sentrum inskakel. Docenda fasiliteer die verkryging van geakkrediteerde opvoedkundige en teologiese opleiding. Hy het ook die nuus gedeel dat Pniël 'n Bybelskool op die been gebring het wat tans goed funksioneer.
'n Lang pad
Jennifer Saal is 'n boorling van Prieska. Haar nederige omstandighede het haar 'n deernisvolle mens gemaak wat sedert haar kinderjare na ander uitreik. Sy wou graag 'n maatskaplike werker word, maar kon nie bekostig om te gaan studeer nie.
Vreudge toe die lint geknip word en die sentrum amptelik geopen word. Van links pastoor Jennifer Saal, die burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé en Saal se eggenoot, Samuel.
Haar gesin vestig in 2000 in Mosselbaai en bekom 'n huis in Asla Park in 2004. Die sosiale euwels in dié gemeenskap maak so 'n indruk op haar dat sy 'n gebedsgroep begin en van huis tot huis met Woordbediening begin.
Sy plaas haar visier op die Asla Park-gemeenskapsaal en onderhandel met die munisipaliteit om dit te gebruik as 'n basis van waar sy die gemeenskap beter kan dien. Intussen bekwaam sy haarself deur kursusse in kinderontwikkeling, middelmisbruik en teologie te voltooi. In 2010 word sy georden as pastoor en bied 'n geestelike praatjie op Eden FM aan.
In 2013/14 begin sy die Pniël-sentrum met sewe kinders. Vandag, is daar 78 kinders.
Tans bied die sentrum baba- en kleutersorg, 'n kleuterskool vir voorskoolse kinders en 'n nasorgsentrum.
Monica Molle is tans die skoolhoof en vier hulponderwysers doen tans by die sentrum hul praktiese opleiding. Saal behartig die oorhoofse bestuur en administrasie.
Skoolhoof Monica Molle, opvoeder Remember Kobola, pastoor Jennifer Saal en Debbie Valentine van Eden FM tydens die opening.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'