Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die laaste manier waarop enige paartjie sou hoop om hulle wittebrood te deur te bring, is in die bed met verskeie beenbreuke.
Dít is egter die lot van pasgetroudes, Johann (27) en Jacky (23) Ludeke wat op Nuwejaarsdag op hulle motorfiets in 'n botsing met 'n voertuig op Louis Fourieweg betrokke was.
Volgens inligting het die voertuig 'n U-draai uitgevoer waarna die Ludekes se motorfiets daarteen gebots het in die omgewing van Boland Park. Jacky is met impak etlike meter deur die lug geslinger, terwyl Johann teen die voertuig beland het. Hulle het verskeie bene gebreek en is na 'n week se hospitalisering op Dinsdag, 7 Januarie na hulle huis in Heiderand geneem om aan te sterk.
Kyk 'n verskafte video hieronder:
'Is my vrou okay'
Die paartjie is op 27 Desember getroud. Johann vertel dat hy al sedert sy laerskooldae motorfietsry en dat hy en Jacky dit saam geniet. Hulle behoort nie aan 'n formele klub nie, maar ry graag saam met vriende. "Ons het dié dag 'n rit beplan en was Eight Bells toe. Daarna het ons in Hartenbos gestop om iets te eet. Dit was besig en ek en Jacky is eerste huis toe," het Johann vandeesweek by navraag aan die Mossel Bay Advertiser vertel. Onderweg het hulle by die verkeerskruising by Diasstrand gestop vir 'n rooi verkeerslig.
"Toe ons wegtrek het ek die voertuig gesien en gewonder wat hulle gaan doen. Dit het gelyk of die bestuurder stop en ek was seker hulle het ons gesien aankom."
Maar toe word die U-draai uitgevoer. "Ek het die vrou wat die motor bestuur gesien. Ek het gevoel hoe my vrou my ribbes vasgryp en toe hoor ek haar gil."
'n Video-opname van die botsing wys hoe Jackie deur die lug slinger. Sy het haar linkerfemur gebreek en haar knie het groot skade vanweë 'n breuk. Johann het in die proses ook sy linkerfemur, sy regterbladbeen, asook ribbes aan sy regterkant gebreek en 'n diep snywond aan sy linkerknie opgedoen.
"Ek het my bewussyn verloor. Jacky het verder vorentoe in die pad gelê en skree omdat sy nie geweet het waar en of ek okay is nie." 'n Inwoner van 'n nabygeleë huis wat hulp kom verleen het was by Johann toe hy bykom. "Ek het hom gevra of my vrou okay is. Hy't ja gesê. Ek het eers gevra 'lieg jy vir my' en toe gehoor hoe die paramedics praat en besef sy is okay."
Vrees vir die dood
Johann sê hy het 'n groot vrees om dood te gaan. "Mense vra my altyd as jy vrees om dood te gaan, hoekom ry jy motorofiets, maar as ek op 'n bike klim dink ek nie aan die dood nie. Ons geniet om te ry. Ek ry elke dag. En elke dag ry motoriste voor jou in en elke keer kon ek nog daarin slaag om uit te swaai. Nie hierdie keer nie." Hy sê toe hy sy vrou hoor gil tydens die botsing, het hy opnuut besef die dood is 'n realiteit.
"Ná die ongeluk het ek gesê ek ry nie weer nie, maar my vrou het my herinner dat dit iets is wat ons saam geniet."
Johann sê hulle is waarskynlik minstens ses weke buite aksie ná die botsing. "Ons lê maar op die bed. Ons het baie seer. Gelukkig het ons 'n groot familie wat baie mooi na ons kyk en ons gemaklik maak."
'n Saak van roekelose en nalatige bestuur word ondersroek deur kst Ayabonga Lolo van die Da Gamaskop-polisie.
Johann en Jacky Ludeke stralend op hul troudag, slegs vier dae voor die botsing.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'