Gallery Update Video
MOSSELBAAI NUUS - Sowat 70 graad 2-leerders van Laerskool Park het Lentedag gevier deur deel te neem aan 'n strandskoonmaakprojek onder leiding van Kosie Gericke.
Gericke het onlangs betrokke geraak by Antonio Da Silva-Swart se strandskoonmaak inisiatiewe, wat onderskryf word deur CapeNature, Plastics SA en Checkers. Ander plaaslike ondernemings wat as borg vir die uitstappie opgetree het is Seeff-eiendomme.
Gericke, wat reeds etlike jare betrokke is by die Grosvenor-oorlewingstaptog vir seuns, se dogter is 'n graad 2-leerder aan Laerskool Park.
Daar was groot opgewondenheid onder die leerders toe hulle Vrydagoggend uit die skoolbussies klim in Bayview. 'n Paar ouers en ook opvoeders het die entoesiastiese groep vergesel.
Die leerders is toegerus met beskermende handskoene en vuilgoedsakke vir die taak wat op hulle gewag het. So tussendeur die skoonmakery het Gericke ook van die geleentheid gebruik gemaak om interessanthede oor die seelewe met die leerders te deel.
Drie ure later is dit wat die Parkies vermag het.
Die staptog het ten einde geloop by Diasstrand. Die leerders het die 1.92 km strandlangs voltooi in drie ure en hulle deel gedoen om Mosselbaai mooi te hou. Volgens Gericke is opvolg skoonmaakprojekte reeds in die beplanning.
Kosie Gericke saam met die graad 2-leerders van Laerskool Park voor die groot skoonmaakstaptog begin.
Op 16 September, Wereldomgewingsdag, sal die Mosselbaai- en Da Gamaskop-polisiestasies deelneem aan 'n strandskoonmaak, terwyl daar ook beplan word om die strand vanaf Glentana tot by die wrak skoon te maak, aldus Gericke.
Kyk 'n video hieronder:
Lees 'n vorige artikel: Laerskool laat waai met strandskoonmaak
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai nuus'