MOSSELBAAI NUUS - Amos en Claudine Hermanus sê in hierdie stadium gee hulle nie om of die moordenaars op vrye voet is of gevange geneem word nie.
Hulle wil net weet wat die motief vir die moord op hulle seun, Ainsley (23) is.
Ainsley Hermanus het op 17 Julie uit Gariepdam waar hy kontrakwerk verrig het, vermis geraak en sy liggaam is op Dinsdagmiddag, 20 Julie tussen Gariepdam en Colesberg teen 'n heining langs die N1 gevind.
Soos berig, het Ainsley verdwyn nadat twee mans wat hulle glo as geregsdienaars voorgedoen het, hom na buite die huis wat hy met kollegas gedeel het, geneem het. Toe die kollegas 'n rukkie later buite na hom gaan soek, was Ainsley en die twee mans soek. Sy selfoon is ook glo kort na sy verdwyning afgesit.
Ainsley se ouers het vandeesweek ingestem om met die Mossel Bay Advertiser by hulle huis te gesels waar gerwe en gerwe blomme die getuienis is van die gemeenskap se meegevoel met hulle verlies.
Ainsley was 'n leerder aan Milkwood Primêre Skool waarna sy rugbytalent hom na die Wes-Kaap Sportskool, Kuilsrivier gelei het. Na 'n kursus in gesondheid- en veiligheidsbestuur, doen hy aansoek vir 'n pos in Emalalheni (Witbank). Hy was by Zithembile Consulting werksaam tot en met sy dood.
"Sy firma het werk vir Eskom gedoen. Hy was maar so twee weke in Gariep. Sy werk het hom baie laat reis. Hy sou binnekort hier naby PetroSA aan 'n eenheid kom werk," vertel Amos en dan volg 'n stilte.
Die gesin het eers op Sondag, 18 Julie omstreeks 14:00 van Ainsley se verdwyning verneem. "Hulle wou seker maar eers kyk of hy uitkom," verduidelik Amos.
Hy sê Ainsley se huismaats kon vanweë die gesigmaskers die twee verdagtes nie eintlik beskryf nie, maar hulle het glo vervalste polisiedokumentasie getoon.
Die Hermanuse sou die Maandag deurry Gariep toe, maar vanweë die kommer en min slaap, besluit hulle toe om eers Dinsdagoggend, 20 Julie vroeg in die pad te val.
"Ek het my jongste, Anslin so 'n ent naby Gariep laat ry sodat ek in die omgewing kon rondkyk of ek iets sien. So 5km van Gariep af het ek die polsievoertuie en 'n afgesperde gebied gesien. Dit het dadelik vir my gevoel asof iets van my langs daardie pad is, maar ons kon nie stop nie. Voertuie is nie toegelaat nie."
Met hulle aankoms by die huurhuis, was Ainsley se werkgewers en lede van die soekgeselskap teenwoordig.
"Hulle het die nuus aan ons meegedeel dat 'n liggaam gevind is, maar hulle was nog nie seker of dit Ainsley is nie."
Amos sê dat hy tans geweldig kalm is. "Ons vat dit dag vir dag."
Ainsley was 'n geliefde lid van sy motorfietsklub, Coal Train Riders wat aktief via sosiale media aan die soektog na hom deelgeneem het. Hulle het ook Woensdag, 28 Julie in Emalalheni vir hom 'n gedenkdiens gehou.
Plaaslike motorfietsryers doen hulle gedenkrit na die Hermanus-woning, Koningklipstraat 58 vandag, 16:30 vir 17:00. 'n Gedenkdiens is gister, Donderdag, 29 Julie vir hom in die All Saints Kerk gehou en hy word môre, tydens 'n klein byeenkoms soos voorgeskryf deur die Covid-19-regulasies, vanuit dieselfde kerk begrawe. Amos glo daar skuil meer agter sy seun se moord.
Hulle was 'n hegte gesin. So beskryf kennisse en familielede die Hermanuse. Dít blyk ook uit 'n afkorting aangebring op Ainsley se motorfietsbaadjie - AAAC.
"Trippel A, C. Amos, Ainsley, Anslin en Claudine," verduidelik Claudine.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'