MOSSELBAAI NUUS - Vir minstens drie gesinne van Sonskynvallei wie se kinders vanjaar hulle hoërskoolloopbane sou begin, het die jaar op 'n vals noot begin.
Jacobus Mcube, wie se seun in Laerskool Hartenbos was in 2019 het die Mossel Bay Advertiser vertel van sy skok toe hy by die skool van sy keuse, Hoërskool Punt weggewys is aangesien daar nie plek vir sy seun, Thabang was nie.
"Ons het verlede jaar vorms by die laerskool gekry wat ons moes invul oor waarheen ons die kinders wil stuur vir hoërskool. Die vorms is deur die skool teruggevra en ons het niks verder gehoor nie."
Mcube sê dat hy aanvaar het dat sy seun plek het in graad 8 by dié skool wat egter toe nie die geval was nie, aangesien Mcube se aansoek skynbaar nie ontvang is nie.
"Die skool was reeds vol. Ek was dieselfde dag by al die ander skole in die dorp. Daar is oral waglyste. Ek het selfs tot in George na PW Botha Kollege gery, maar moes daar ook hoor hulle is vol."
Volgens Mcube, was dit die lot van ander kinders in Sonskynvallei ook. *
Aansoekproses
Bronagh Hammond van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) het by navraag aangaande die beweerde verlore aansoekvorm gesê dat die enigste vorms wat deur die skool uitgedeel is, vorms was om aan te dui hoe om via die departement se aanlynsisteem of direk by die skool aansoek te doen.
Tydens 'n opvolgnavraag van die Advertiser, het Mcube volgehou: "Ons het vorms gekry wat deur die skool teruggevra is. As iemand my gesê het dat ekself my kind moes inskryf, dan het ek dit so gedoen."
Mcube het tydens sy gesprek met die Advertiser veral sy kommer uitgespreek daaroor dat sy seun, terwyl hy nêrens in 'n plaaslike hoërskool kon plek kry nie, alleen tuis moes bly, aangesien beide ouers werk.
"Daar is kriminele elemente in Sonskynvallei. Wat as my kind, omdat hy nie kan skoolgaan nie, aan sulke mense blootgestel word vanweë ledigheid?"
Hammond het voorts in die WKOD se terugvoering gesê: "Die onus rus op ouers om op te volg met die skole waar hulle aansoek gedoen het, indien hulle nie bevestiging van die skool ontvang nie. Die departement is baie duidelik hieroor in al hulle kommunikasie."
Volgens Hammond is laerskole se betrokkenheid by die doen van aansoeke vir graad 8-plasing, om plakkate op te sit wat skole-opsies in die omgewing adverteer en dat hulle deur effektiewe kommunikasie. die ouers moet aanmoedig om vroegtydig aansoek te doen binne die voorgeskrewe tydperk.
Oorvol skole
Na aanleiding van hierdie voorval, het die Advertiser verskeie navrae aan die WKOD gerig, nie net oor die aansoekproses nie, maar ook aangesien plaaslike hoërskole oorvol blyk te wees in ag genome die nagenoeg 18 laerskole in die omgewing, tutorsentrums uitgesluit, wat as voederskole dien.
"Die WKOD sal eers die korrekte leerdergetalle kan bevestig na die 10 dag snap survey. Ons is bewus daarvan dat daar 'n aanvraag vir die plasing van graad 8-leerders in die area is. Skole en ander amptenare werk saam om soveel moontlik leerders te kan akkommodeer."
'n Betroubare bron het vandeesweek aan die Advertiser gesê dat Indwe Sekondêre Skool in KwaNonqaba tans tot nege graad 8-klasse moet akkommodeer en dat daar tot meer as 40 leerders per klas is.
Uit navrae aan Hoërskool Sao Bras en Hillcrest Sekondêre Skool blyk dit ook dat skole reeds vol is en dat waglyste ook nie verdere akkomodasie toelaat nie.
By navraag oor die moontlikheid van 'n oprigting van 'n nuwe hoërskool in Mosselbaai, het Hammond gesê: "Daar word geen nuwe hoërskool beplan vir die area nie. Die departement se begroting is beperk en die nood in ander areas, is groter."
Aangaande wat ouers te doen staan wie se kinders nie plasing in graad 8 kon kry nie het Hammond gesê: "Hulle moet die distrikskantoor kontak sodat ons kan kennis neem van leerders wat nog geplaas moet word."
* Mcube het vandeesweek by navraag bevestig dat sy seun, asook die ander leerders in Sonskynvallei by Hoërskool Sao Bras in graad 8 geakkommodeer is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'