Update
MOSSELBAAI NUUS - Die man wat op Dinsdag, 5 Julie in 'n huisbrand in Heiderand op Mosselbaai dood is, is geïdentifiseer as die 61-jarige Dirk Wolvaardt.
Wolvaardt was 'n oud-Mosselbaaier en het vir 28 jaar by PetroSA gewerk.
Hy sou volgende week sy 62ste verjaarsdag vier. Wolvaardt is onlangs medies ongeskik verklaar om te werk nadat hy 'n virus opgedoen het wat sy longe aangetas het.
Wolvaardt was lief vir motorfietsry en het dit graag as 'n stokperdjie beoefen.
Die Mosselbaai brand-, redding- en rampbestuurdienste is om ongeveer 18:00 na die woning op die hoek van Kameeldoring- en Ysterhoutstrate ontbied. Die omstandighede van die brand word nog ondersoek en die oorsaak daarvan is nog nie bekend nie.
Wolvaardt se dogter, Chantelle Keyter is 'n onderwyser by 'n privaatskool op Mosselbaai. Sy sê sy was ten tye van die voorval by haar huis in Voorbaai toe haar pa se bure haar bel. Sy het haar na die toneel gehaas maar is nie in die woning toegelaat nie.
Keyter se ma is twee jaar terug oorlede en haar pa het alleen saam met sy twee Chihuahuas-hondjies gewoon.
"My pa was 'n baie sterk mens. Hy het sy lewe lank hard gewerk. Hy het goed na sy gesin gekyk en niks was ooit te veel om vir hom te vra nie," sê Keyter.
Keyter en haar pa was baie na aanmekaar.
Wolvaardt laat vier kinders, drie seuns en 'n dogter en twee kleinkinders agter.
Die hondjies is saam met hom in die brand dood.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'