Update
MOSSELBAAI NUUS - Een van Mosslebaai se merkwaardige senior burgers, Wessel Oosthuizen, is verlede Vrydag net meer as 'n maand voor sy 105de verjaarsdag oorlede. Hy sou op 13 Julie verjaar. Die Mossel Bay Advertiser het gereeld oor Wessel berig en hy en sy vrou. Enna, was so onlangs as April vanjaar in die nuus toe hulle hul platinum of 70ste huweliksherdenking gevier het.
Wat Wessel so merkwaardig gemaak het, is nie net dat hy as 'n lid van die SA Polisiediens gedurende die Tweede Wêreldoorlog in Noord-Afrika gedien het nie, maar ook 'n krygsgevangene was vir twee jaar en hy kon bowendien met die helderste verstand nog van hierdie dinge vertel. Hy het ook met die groot helderheid van hom en sy Enna se ontmoeting en uiteindelike huwelik vertel tydens 'n vorige gesprek met die Advertiser.
Wessel het in die onlangse verlede nog 'n onderhoud toegestaan aan Haidee Muller van RSG om van al sy wedervaringe te vertel.
'Te sieklik'
Wessel is 'n boorling van Tweeling in die Vrystaat. Hy het altyd vertel hoe die grond te klein was om te onderverdeel vir al die seuns om te boer, dus het hy sy heil op die myne gaan soek. Met sy onderhoud het hy 'n effense verkoue gehad en is afgekeur aangesien daar gemeen is dat hy "te sieklik was". Daar is altyd lekker oor hierdie stelling gelag tydens verjaardagvieringe.
Wessel en Enna het Julie verlede jaar in Fynbos Heights se versorgsingseenheid ingetrek. Hulle het voorheen in Graaff-Reinetlaan in Hartenbos gewoon. Daar het hulle ingetrek kort na Wessel se aftrede in 1973.
Wessel het tydens vorige gesprekke met die Advertiser gesê dat sy resep vir sy lang lewensduur matige oefening en 'n goeie sin vir humor is. Hy het ook gesê dat hy nie enige besonderse dieet volg nie, maar doodgewone boerekos geniet.
Met sy sig wat begin agteruitgaan het, was sy raad aan ander seniors tydens 'n vorige gespreksgeleentheid, dat oues van dae moet sorg dat hulle finansiële sake in plek is en dat hulle 'n betroubare persoon kry wat sake namens hulle kan bestuur.
Sy dogter, Annelize Peinaar sê: "My ouers se geloof en liefde vir mekaar, hul nederigheid en dankbaarheid teenoor hul Skepper was tot my pa se dood so sterk en helder in my ouers se lewens. Ons as familie is baie dankbaar teenoor die personeel van Fynbos Heights. Hulle het met soveel empatie, liefde en geduld met my ouers gewerk sedert hulle verblyf daar. Hul deel 'n pragtige humorsin met my ouers en vorm nou 'n laer van liefde om my ma noudat sy alleen is."
Wessel Oosthuizen se roudiens word om 17:00 op Vadersdag, 17 Junie by die eetsaal van Fynbos Heights-aftreeoord gehou. Hy laat sy vrou, Enna, twee kinders, vyf kleinkinders en vier agterkleinkinders agter.
Lees 'n verwante artikel: 'n Huwelik so raar soos platinum
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'