Update
MOSSELBAAI NUUS - Skaars 'n dag nadat 'n 45-jarige vrou van Mosselbaai naby die Langeberg Mall ontvoer is, het die polisie op Dinsdag, 29 Mei 'n verdagte by 'n woning in Sonskyn-vallei in hegtenis geneem. Die verdagte (46) is na wat verneem word óók 'n verdagte in die moordsaak van Sonskynvallei-inwoner, Theresa (Tess) Vister (43) wie se lyk in Augustus 2013 onder 'n bed in 'n woning in dié woonbuurt gevind is.
Die slagoffer, wat by 'n winkel in Langeberg Mall werk, se gru-ervaring het ontvou toe sy op Maandag, 28 Mei na afloop van haar skof by die verkeersligte voor die winkelsentrum duimgegooi het.
Die vrou woon saam met haar gesin in Elangeni, KwaNonqaba en het glo 'n afspraak by 'n hospitaal op Mosselbaai gehad. Die verdagte het vir haar 'n saamrygeleentheid in sy bakkie aangebied waarna hy op die N2 in die rigting van PetroSA met haar weggejaag het.
Volgens polisiewoordvoerder, kapt Malcolm Pojie het die verdagte die slagoffer in die ry met 'n mes gedreig, haar van haar selfoon en R100 kontant beroof en haar *verkrag. Die slagoffer kon egter daarin slaag om uit die bewegende voertuig te spring waarna die verdagte glo met die voertuig op haar afgepeil en oor haar gery het. Hy het daarna, na wat verneem word, op 'n grondpad in 'n landelike gebied weggejaag.
Die slagoffer kon daarin slaag om hulp te kry en is vir haar beserings in die Mosselbaai provinsiale hospitaal behandel.
Die ondersoekspan van die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe op Mosselbaai, sers Soretha van Zyl, ao Tatta Marks, eenheidbevelvoerder kapt Geoffrey Gordon, sers Mantshadi Mofokeng en kst Ntobeko Nogcinisa. Dis te danke aan hulle wat die verdagte spoedig vasgekeer is. Foto: Cornelle Carstens
Grootskaalse soektog
Dieselfde middag het die Da Gamaskop-polisie en die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe op Mosselbaai 'n grootskaalse soektog na die bestuurder en die bakkie geloods.
'n Foto van die sogenaamde voertuig wat tydens die ontvoering gebruik is, is op sosiale media versprei. Kaptein Pojie sê die polisie het op 'n bakkie, wat vermoedelik die voertuig is wat tydens die ontvoering gebruik is, beslag gelê. "Forensiese toetse sal op die voertuig uitgevoer word."
Die slagoffer se man het aan die Mossel Bay Advertiser gesê sy vrou is erg getraumatiseerd en dat hy teen die ter perse gaan vir haar berading gereël het.
Hof
Die verdagte verskyn vandag, op Vrydag, 1 Junie in die Mosselbaai-landdroshof en word aangekla van ontvoering, poging tot moord, roof en verkragting.
Die verdagte het onlangs saam met twee ander mans sy eerste hofverskyning in verband met die moord op Vister in die Mosselbaai-landdroshof gemaak en moet weer op 5 Junie in die hof verskyn.
Vister is vermoedelik ernstig aangerand en het 'n steekwond aan die nek gehad. Daar was ook tekens van poging tot verkragting. Die Mossel Bay Advertiser weerhou tans die naam van die verdagte omdat hy van verkragting aangekla word en sy identiteit eers bekend gemaak kan word sodra hy gepleit het.
* Verkragting is 'n seksuele daad wat op iemand afgedwing word. Verkragting is nie net seksuele omgang van private dele nie, maar ook die penetrasie van 'n persoon met enige voorwerp of liggaamsdeel.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'