GLENTANA NUUS - Mike en Bernice van Rooyen, 'n egpaar van Glentana wat op Maandag, 14 Oktober om 00:30 deur vier gewapende mans in hulle woning aangehou en beroof is, sê hulle is gelukkig dat hulle nie seergekry het nie.
Die Van Rooyens besit reeds die afgelope 30 jaar dié huis in Mosselstraat en sê hulle sal in Glentana aanbly. Boonop ag hulle hul verhaal as een van die "goeie stories" van Suid-Afrika.
"Ons hoor baie negatiewe stories. Ek het die sentiment dat die glas halfvol is en dit gaan nie help ons sit in sak en as nie. Ons maak 'n punt daarvan om positief te lewe. Misdadigers gaan my nie uit Glentana kry nie en hulle gaan my nie uit die land kry nie," sê Mike.
Nietemin, meen hulle, was die voorval iets wat hulle niemand toewens nie.
Nie tëegesit nie
Bernice kon op die betrokke aand nie slaap nie en het opgestaan om werk te doen. "Ek het 'n lig deur die onderste badkamervenster gesien en toe ek nader stap sien ek 'n hand wat die venster oplig." Bernice sê die spesifieke venster het diefwering aan en daarom het hulle dit saans op 'n skrefie oopgelos.
"Ek skree toe vir Mike en die inbreker moes dit gehoor het, want toe Mike by die trappe kom het al vier van hulle voor 'n groot venster langs die voordeur gestaan." Bernice het na die telefoon gehardloop om Suiderkruis Sekuriteit te bel. Die beheerkamer het pas die oproep ontvang toe die verdagtes die vensterruit stukkend skiet.
"Die dame van Suiderkruis het pas geantwoord toe een van die mans op my afstorm en my trouring van my vinger gryp. Die foon het geval en ek het ons straat se naam en nommer geskree."
Die verdagtes het almal klapmusse gedra en het Mike en Bernice beveel om eenkant in die sitkamer te sit. Hulle het die egpaar met rekenaarkabels vasgebind en verskeie items, onder meer selfone, die televisie, juwele en skootrekenaars bymekaargemaak. Mike sê 'n kalmte het oor hom en Bernice gedaal. "Ons het ons glad nie teëgesit nie. Die verdagtes was ook nie aggresief teenoor ons nie en het ons beveel om stil te sit. Hulle het Afrikaans gepraat, Engels en ook 'n taal wat ek nie verstaan nie. Ons het vir hulle geluister en ek dink nie ons was 'n bedreiging vir hulle nie."
'Kon erger gewees het'
Bernice sê sy vermoed hulle was haastig omdat hulle kon sien dat sy iemand probeer bel het. Die verdagtes het daarna te voet gevlug. "Ons is net dankbaar want dit kon erger gewees het. Ons is ook beïndruk met Suiderkruis Sekuriteit se vinnige diens, asook die Groot-Brakrivier-polisie en die Glentana-buurtwag. Sondag gáán ek my tjoppie braai, en ek gáán die rugby kyk en ek gáán 'n biertjie drink."
Die egpaar het intussen die sekuriteit by hul woning opgeskerp. "Ons het gedink ons is paraat, want ons het beams om die huis geïnstalleer, maar voor dié spesifieke venster was daar nie. Ons sal ons sisteme aanpas, maar ons gaan steeds ons seeuitsig geniet en ons gaan nie in 'n tronk woon nie."
Die polisie ondersoek 'n saak van huisroof.
Bernice staan by die venster waardeur die verdagtes koeëls geskiet het om toegang tot die huis te kry.
Die venster waardeur die verdagtes toegang tot die woning verkry het.
Die verdagtes het hierdie badkamervenster opgelig en 'n flitslig daardeur geskyn.
Lees 'n vorige artikel hier: Rowers bind egpaar vas
'Ons bring jou die nuutste Glentana, Tuinroete nuus'