GLENTANA NUUS - ‘n Egpaar op Glentana is vanoggend om 00:30 deur vier gewapende mans met balaclavas aangehou en beroof.
Die voorval het in Mosselstraat plaasgevind.
Volgens die Groot-Brakrivier-polisie het die vrou ‘n persoon deur die badkamervenster gesien. Sy was op die onderste gedeelte van die woning en het vir haar man geskree wat op die boonste verdieping was.
Die man het by die trappe afgekom waarna hy drie mans by die voordeur gesien het.
Die een verdagte het ‘n vuurwapen gehad en die klaer beveel om terug te staan omdat hy sal skiet.
Volgens die polisie het die verdagte toe die venster langs die voordeur stukkend geskiet waarna die vier mans die huis in is.
Hulle het die slagoffers op stoele maak sit en hulle hande en voete vasgebind.
Die verdagtes het die woning deursoek en gevlug met ‘n televisie, selfone, ‘n kamera, skootrekenaars en juwele ter waarde van R71 830.
Die mans is steeds op vrye voet.
Die polisie ondersoek ‘n saak van huisbraak.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'