Update
MOSSELBAAI NUUS - Die Petroleum Olie en Gaskorporasie van Suid-Afrika (PetroSA) het nie die afgelope week op verskeie vrae gereageer oor wat presies die oorsaak was van die lekkasie aan een van sy pypleidings in die omgewing van Nautilusbaai naby Mosselbaai nie.
PetroSA het op Vrydag, 11 November 'n persverklaring uitgereik waarin hy bevestig het dat kondensaat in die gebied uitgelek het.
Hoewel PetroSA aanvanklik gesê het dat daar geen besoedeling van die omgewing plaasgevind het nie, het PetroSA se woordvoerder, Thandi Nameka kort daarna aan die Mossel Bay Advertiser bevestig dat daar inderdaad grondbesoedeling weens die lekkasie was.
Nameka het bevestig dat die terrein waar die besoedeling plaasgevind het, afgesper is ter voorbereiding van die herstelwerk.
Die toevoer van kondensaat met die pyplyn is ook gestaak.
Nameka het teen die ter perse gaan gesê dat bestuurspanne besig is met die assessering van die lekkasie. Sy kon nie bevestig hoeveel kondensaat uitgelek het nie maar het gesê PetroSA beplan 'n skoonmaakproses wat die verwydering van besmette grond sal behels.
Die Advertiser het onder meer aan PetroSA gevra hoe gereeld die pypleidings nagegaan word en wie daarvoor verantwoordelik is. Die Advertiser wou ook weet of daar enige vooraf-aanduidings was dat die pyplyn besig is om te verweer en of die voorval as 'n omgewingsinsident gerapporteer is.
Nameka sê PetroSA sal weekliks verslag lewer en sal na verwagting vandag, op Vrydag 18 November, meer inligting bekend maak.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'