MOSSELBAAI NUUS - Die 2018 Mosselbaai Dias- & Portfees gaan grense verskuif.
Die fees gaan groter en beter wees as enige van die voriges juis vanweë die hawe-owerheid se betrokkenheid.
Nie meer sal die gratis verrigtinge tydens die eerste naweek in Februarie net by die Santos-feesterrein aangebied word nie, maar die hawe sal benewens stalletjies en verhoogvertonings 'n gans nuwe dimensie aan die fees verleen.
Hierdie jaar val die kollig skerp op die land se oudste hawe en talle van die aantreklikhede sal op en om die see plaasvind.
Twee verhoë, een elk op die hawe en by die Santos-feesterrein, gaan vertonings van uitstaande gehalte bied.
Nasionale en plaaslike kunstenaars gaan feesgangers van vroeg tot baie laat vermaak, en spesiale aandag word gegee aan fasiliteite waar kinders veilig vermaak kan word.
Vanaf Santos tot by die hawe gaan een groot speelterrein word, die gebruiklike vlotte-optog gaan vanjaar heelwat groter wees met deelnemers wat spesiaal vanaf Kaapstad aan verrigtinge kom deelneem.
Die aankoms van die spreekwoordelike Dias gaan vanjaar ook iets besonders wees, en feesgangers kan gerus wees dat daar oudergewoonte eetgoed en snuisterye te kus en te keur gaan wees.
Die afgelope week het die reëlingskomitee vir die nuwe, groter Mosselbaai Dias- & Portfees vergader om die programdetail en reëlings te finaliseer. Foto: Nickey le Roux
Hou gerus die Mossel Bay Advertiser volgende week dop vir heelwat meer oor die omvattende program.
Tot dan, maak seker dat vriende en familie weet om die eerste naweek van Februarie te dagboek vir hope pret en plesier.
ARTIKEL & FOTO: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER NUUSREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'