MOSSELBAAI NUUS - Claire du Plessis, voorsitter van die Langsous ATKV-tak op Mosselbaai, het 'n beroep op ouers gedoen om die onderwysdepartement, skole en opvoeders te help met die onderrig van skoolgaande kinders.
"Die departement, skole en onderwysers het regtig u hulp nodig.
Klik hier om foto's te sien: ATKV Langsous branch: helping parents to help their children read with understanding
"Die grondslag moet van die ouens kom terwyl eksterne vennote ook noodsaaklik is. En as eksterne vennoot sal ons as Langsous ATKV-tak ook 'n bydrae wil maak," het Du Plessis gesê.
Langsous ATKV-tak het vyf jaar gelede begin om ‘n verskil te maak aan die PIRLS (Progess in International Reading Literacy Study) uitslae, wat gewys het dat graad 4-leerders nie met begrip kan lees nie.
Vaardigheid
Volgens Du Plessis het verskeie struikelblokke waaronder 'n gebrek aan kennis en vaardigheid dit moeilik gemaak doelwitte te bereik.
Verskeie inisiatiewe is egter van stapel gestuur waar boektrommels aan skole voorsien is terwyl ander skole weer gehelp is deur boekrakke te skenk.
Onderwys-opleiding is ook aangespreek om hulle te bemagtig deur die regte metodes te volg en hulpmiddels aan te wend om lees en leer te bevorder.
"Gedurende die afgelope vyf jaar het ons baie lesse geleer en het soms agteruit beweeg. Baie goed moes herhaal word," het sy gesê.
Grensgevalle
"Toe ons met skole in gesprek tree, het ons agtergekom dat 'n groot deel van die grensgevalle lei aan 'n gebrek aan ouerondersteuning en ouerbetrokkenheid.
"Die skole het voorgestel dat ons met die ouers van die leerders in gesprek tree."
Dit het daartoe gelei dat Du Plessis en haar span besluit het om 2025 die jaar van die ouer te maak.
"Ons wil ouers ondersteun, bemagtig, inspireer en begelei op hulle weg as mede-vennoot op hulle kinders se opvoedkundige reis."
Ouers moet weet alle kinders kan leer. Leerstoornisse en/of leergestremdhede kan egter 'n groot rol speel in die finale ontwikkeling om dié probleme te oorkom.
Du Plessis sê: "As u, u kind by die huis help en ondersteun, kan u ook help dat u kind vinniger hulp kry indien daar leeruitdagings is."
Interaksies
Langsous ATKV-tak het begin met ‘n reeks interaksies met ouers in ‘n poging om ouers te bemagtig.
Die tak fokus op die belangrikheid van klankleer as die belangrikste bousteen om woorde te bou en leesvaardigheid te bevorder.
Die tak het 'n lys van 10 skole en is tans besig met interaksies met ouers van graad 1's by die skole.
Du Plessis se raad is: "Skep vir u kind roetine. Dit help met dissipline in skool. Hy/sy moet weet: daar is 'n tyd vir alles. Tug met liefde en verdraagsaamheid, dog met fermheid.
"Ons wens alle graad 1-leerders en hulle ouers voorspoed toe. Hierdie is ‘n groot sprong vanaf kleuterskool waar kinders deur speel leer en hulle het u nodig om hulle handjie vas te hou. Die ander handjie hou aan die onderwyser se hand vas."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’