Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Om babas in die huis te hê, is 'n handvol maar om 16 hondebabas gelyktydig te versorg, vereis spanwerk, goeie beplanning, geduld en baie liefde.
Christiaan en Sherise Roux en hul drie kinders het 'n jaar gelede uit Pretoria na die Suid-Kaap verhuis.
FOTOGALERY: Gemma die labrador-ma
Sherise het sowat agt jaar gelede haar eerste labrador gekry en so lief geraak vir dié spesie dat hulle nou twee labradors en vyf goue apporteer (retriever) honde het.
Die 16 babahonde is van twee werpsels met Gemma die labrador-ma met agt kleintjies en Donna, die goue apporteur, wat ook agt babas het.
Die twee tewe kom gewoonlik op dieselfde tyd op hitte en word dan na 'n ander eienaar of teler se plek geneem waar hulle van ses tot 10 dae bly om gedek te word.
Volgens Sherise beplan hulle gewoonlik twee of drie werpsels 'n jaar vir die verskillende mamma-honde en selekteer gesonde bloedlyne.
Sherise vertel dat dit 'n gesinsaktiwiteit is waar almal help om die hondjies te versorg, die hokke skoon te hou en kos te gee.
"Met die kraamproses wat tussen ses tot 12 uur duur, sit ek en my man (ons los mekaar ook af) by die mamma-hond wat my in die oë kyk as sy druk en ons moedig haar aan om aan te hou druk tot al die kleintjies gebore is".
Dié telery is by Kusa geregistreer as Dyrbara Tassar (Precious Paws). Kosbaar en geliefd, is dié hondjies beslis. Al 16 hondjies is reeds vooruit bespreek en verkoop.
VIDEO - Sherise Roux vertel van die beplanning, organisasie en harde werk om 16 baba-honde gelyk groot te maak (Video: Alet Engelbrecht, Mossel Bay Advertiser).
Die agt goue apporteur en agt labrador hondjies speel in die groot area terwyl hul ma's versorg word.
Kristin Roux saam met Donna, die goue apporteur-teef en ma van die agt babas.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'