Breaking News
MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai se munisipale bestuurder, Colin Puren, sal voortaan weer op die maksimum salarisskaal vergoed word.
Dit volg op 'n besluit gister ná 'n spesiale raadsvergadering en wat deur die Mosselbaai-munisipaliteit in 'n verklaring bevestig is.
Volgens dié verklaring is die besluit oor die salariskwessie deur die nuwe minister van samewerkende regering en tradisionele sake in die regering van nasionale eenheid (GNU), minister Velenkosini Hlabisa, goedgekeur.
Volgens die munisipaliteit het die voormalige minister van samewerkende regering, Nkosazana Dlamini-Zuma, nooit op vertoë van die munisipaliteit reageer nie. Sy is ná die algemene verkiesing op 29 Mei 2024 nie weer in haar pos aangestel nie.
Die munisipaliteit het destyds dié minister gevra om haar besluit om voorwaardelike goedkeuring te verleen vir die ouderdomskwytskelding te heroorweeg vir die aanstelling van Puren na die aftree-ouderdom van 65-jaar vir 'n kontraktydperk van vyf jaar.
Goedkeuring is destyds deur Dlamini-Zuma verleen op voorwaarde dat die munisipale bestuurder op die minimum vergoedingspakket aangestel word.
Mosselbaai burgemeester, Dirk Kotzé.
Die burgemeester, Dirk Kotzé, het sedertdien besluit om minister Hlabisa te vra om die vertoë te ondersoek en die kwytskeldingvoorwaarde te heroorweeg sodat Puren op die maksimum vergoedingspakket aangestel kan word: “aangesien hy oor die vereiste vaardighede, kundigheid, kwalifikasies, relevante ervaring en bevoegdhede beskik”.
“Die munisipaliteit is in kennis gestel dat die minister na oorweging van die versoek die voorwaardes hersien het en dat goedkeuring verleen word dat Puren op 'n maksimum van 'n kategorie 4-munisipaliteit vergoed word.”
Dit sal geld met ingang van 1 Julie 2022. Onderhewig aan die bekostigbaarheid en beskikbaarheid van fondse binne die munisipaliteit se huidige begroting.
“Die gewysigde kwytskelding sal met onmiddellike effek geïmplementeer word en die munisipale bestuurder se dienskontrak sal dienooreenkomstig gestruktureer word.”
Puren is verlede jaar versoek om meer as 'n halfmiljoen rand terug te betaal na aanleiding van 'n dringende mosie.
Op daardie vergadering is besluit om Puren se vorige salarispakket te herroep.
Dit het gevolg na druk van opposisiepartye oor Puren se salarisskaal en 'n saak van bedrog, wat opposisiepartye aanhangig gemaak het teen die Demokratiese Alliansie-koukus in Mosselbaai, wat deur die Valke ondersoek word.
Opposisiepartye in die munisipaliteit het destyds gesê hoewel hulle saamgestem het met Puren se aanstelling as munisipale bestuurder, die DA-koukus aanbevelings van die Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, Anton Bredell, en die destydse minister van Cogta, Nkosazana Dlamini-Zuma, oor die vergoeding van Puren se salaris weerhou het.
Bredell en Dlamini-Zumi het aanbeveel dat Puren se salaris op 'n laer skaal moet wees.
Opposisie partye reageer
Intussen het opposisie partye kapsie teen die besluit gemaak.
ACDP raadslid, Jeanette Gouws, het die proses as misleidend beskryf. “Die ACDP neem kennis van die misleidende wyse waarop die item weer aan die raad voorgelê is en sê dat die kwytskelding nie in 2022 in werking getree het nie omdat die munisipaliteit nie die voorwaardes vir die kwytskelding geïmplementeer het nie. Dit is nie die waarheid nie.”
Gouws sê die kwytskelding waarvoor Kotzé aansoek gedoen het, het betrekking op die aftree-ouderdom van Puren.
“Die kwytskelding is toegestaan onderhewig aan die feit dat die munisipale bestuurder op die minimum vlak van vergoeding vir 'n kategorie 4-munisipaliteit vergoed word. Die burgemeester en die betrokke administrasie het toe valslik in raadsdokumente beweer dat die munisipale bestuurder gekwalifiseer het om op die maksimum vergoedingsvlak betaal te word.”
Voormalige DA-raadslid, Anco Barker wat destyds uit die DA bedank het nadat sy gesê het die munisipale raad van Mosselbaai is opsetlik mislei aangesien inligting oor die salarisskaal waarop die munisipale bestuurder aangestel is, van raadslede weerhou is, het gister as volg gereageer:
“Geregtigheid sal geskied. ‘n Saak is aanhangend en dit is roekeloos van die DA om die item te laat dien terwyl die saak by die nasionale vervolgingsgesag (NVG) is. Dis ook wel verdag dat dit mag voorkom asof die DA hul mag misbruik het om dié besluit by ‘n nuwe minister te kry. Van waneeer af is die raad verhewe bo die NVG,” het sy gevra.
Voormalige Icosa raadslid en provinsiale leier in die Wes-Kaap, Dawid Kamfer, wat nou as die leier van One Voice Independent staan, ‘n gemeenskapsorganisasie wat hom beywer vir die geregtigheid van gemeenskapskwessies, sê hy sal voortgaan om die saak waarvoor Icosa baklei het, te verdedig.
Kamfer het gese dit is skokkend dat die DA-raad bereid is om so ver te gaan nadat daar bevind is dat Puren geld terug moet betaal “nadat daar bevind is dat hy te veel betaal is”.
Vorige artikel:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’