Breaking News
MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai se munisipale bestuurder, Colin Puren gaan eersdaags op die laagste salarisskaal vir munisipale bestuurders besoldig word.
Die aankondiging volg op ‘n dringende mosie wat burgemeester, Dirk Kotzé, gister tydens ‘n spesiale raadsvergadering voor die Mosselbaai-raad gebring het.
‘n Storm woed die afgelope paar weke om die koppe van Puren, Kotzé en die DA-koukus, nadat opposisiepartye in die Mosselbaai munisipale-raad ‘n dringende ondersoek gevra het nadat Puren op die maksimum salarisskaal aangestel is.
Opposisiepartye in Mosselbaai het ook klagtes van bedrog en korrupsie by die polisie teen die DA-koukus van die Mosselbaai-munisipaliteit ingedien.
Van die opposisiepartye wat hierdie klagtes gelê het, wat Icosa, die ACDP en die Vryheidsfront plus insluit, het gister vir speaker Venolea Fortuin gevra of hulle die raadsaal kan verlaat. Die opposisiepartye het een vir een aangedui dat hulle nie die vergadering verder kan bywoon nie, omdat daar ‘n polisieondersoek, wat hulle betrek, hangende is. Hulle het toe die vergadering verlaat.
Puren is op die maksimum salarisskaal aangestel ondanks skrywes van Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, en dr Nkosazana Dlamini-Zuma, toe nog minister van samewerkende regering en tradisionele sake, dat sy salaris op ‘n laer skaal moet wees.
Ofskoon opposisiepartye vir Puren se aanstelling gestem het, sê hulle, hul is nooit oor die skrywes van Bredell en Dlamini-Zuma ingelig nie.
Opposisiepartye wou weet hoekom die inhoud van die skrywes van hulle weerhou is. Die DA-koukus was glo van die inhoud van die briewe bewus, maar nie opposisiepartye nie.
Die DA-koukus hou egter vol dat Kotzé, volgens sy mandaat, wat eenparig deur die volle raad aan hom opgelê is, opgetree het.
Die burgemeester het op 9 Februarie 2022 die raad se eenparige mandaat ontvang om die aanstelling en salaris af te handel.
Kotze het gister gesê die DA-koukus Mosselbaai het op eie koste ‘n onafhanklike regsopinie ingewin wat bevind het dat Puren se aanstelling 100% wettig was ingevolge die relevante wetgewing, tot met die datum waarop hy in Julie vanjaar 65 jaar oud geword het.
Omdat Puren na ouderdom 65 en tot en met die einde van hierdie termyn as munisipale bestuurder aangestel is, het die munisipaliteit by Dlamini-Zuma aansoek vir kwytskelding van die ouderdomsperk gedoen. Kotzé sê dat die regsmening wat ingewin is, daarop dui dat die opskorting voorwaardelik was en dat uiteenlopende menings bestaan oor of die betrokke minister die bevoedheid al dan nie het om voorskrifte oor munisipale personeel voorwaardelik te maak.
“Die raad het geen aptyt om regskostes aan te gaan om die opinie verder te toets en ons staan wel ‘n kans vir ‘n audit navraag indien ons slegs sou voortgaan. Daarom het ons met die munisipale bestuurder ooreengekom om sy kontrak te herbeding en sodoende te voldoen aan die COGTA-minister se vereistes vir die minimum salaris oor die volle termyn.”
Kotzé het gesê dit is hartseer dat daar op ouderdom gediskrimineer word. “Veral op die gebied waar ons tans ‘n ongelooflike tekort aan kundigheid in plaaslike regering ervaar.”
Kotzé het gesê hulle gaan dus nou aan die bepalings van Dlamini-Zuma voldoen terwyl die saak verder met die nuwe minister van COGTA opgeneem sal word om sodoende ‘n regverdige uitkoms te vind.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’