Update
MOSSELBAAI NUUS - Die vrou wat die afgelope naweek in ’n motorfietsongeluk in Mosselbaai oorlede is, is as Jana Claassen (50) geïdentifiseer.
Die Mosselbaai-polisie ondersoek tans ’n saak van strafbare manslag ná Claassen se dood op Saterdag 25 April in Georgeweg.
Volgens ’n polisiewoordvoerder, AO Chris Spies, is Claassen met ernstige beserings gevind. Die paramedici het haar kort daarna op die toneel dood verklaar. Die oorsaak van die ongeluk is nog onbekend.
Claassen was ’n lid van die Mac’s Familia George-motorfietsklub. Die klub het ’n kort huldeblyk op sy Facebook-blad gedeel.
“Dit is met groot hartseer dat ons die afsterwe van een van ons kosbare lede, Jana Claassen, deel. God het een van sy heel mooiste blomme gepluk om by Hom te wees. Hou asseblief Jana se man, drie kinders en familie in julle gebede.”
’n Vriendin van Claassen, Elmin Kruger, sê haar dood voel onwerklik, en sy het ook ’n huldeblyk gedeel. “My hart is so seer. Jy was nie net my beste vriendin nie, jy was my mens - die een wat altyd daar was as ek wou praat, wat my laat lag het en my verstaan het sonder dat ek eers iets hoef te sê.
“Ek gaan jou ongelooflik baie mis - jou lag, jou stories, alles van jou. Dankie vir elke herinnering wat ons saam gemaak het. Ek sal dit vir altyd in my hart dra.”
Kruger sê sy bly aan hulle Desember-vakansie en die viering van Claassen se 50ste verjaarsdag dink. “As ek net geweet het dit sou ons laaste celebration wees, sou ek jou nog langer vasgehou het, nog harder gelag het, nog ’n skaapogie saam jou gedrink het... net ’n bietjie meer tyd saam met jou gevat het.
“Rus sag, my mooiste vriendin. Jy sal altyd deel van my wees.”
Vorige artikel:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’