Update Video
GROOT BRAK-RIVIER NUUS EN VIDEO - Die Wes-Kaapse minister van finansies, dr Ivan Meyer het op Maandag, 11 Junie twee ouetehuise op Groot-Brakrivier besoek. Meyer het by inwoners van die Reebok- en Groenkloof-aftreeoord aangeklop. Hy sê dit is vir hom belangrik om met senior burgers in kontak te bly.
Meyer het spesiaal besoek afgelê by Julie van Ryneveldt wat reeds vir etlike jare 'n lid van die DA is, asook Rinie Loock wat reeds 95 jaar oud is. Van Ryneveldt en Meyer het heerlik in haar sitkamer gesels en sy het ook vir hom en sy gevolg uit haar Bybel gelees. Meyer het op sy beurt Van Ryneveldt se Bybel gevat en vir haar 'n paar gedeeltes wat vir hóm belangrik is, gelees.
Meyer en Van Ryneveldt het gesels oor onder meer koalisie en na afloop van die ontmoeting het Van Ryneveldt vir Meyer 'n gebed gedoen. Daarna het Meyer afgestap na die versorgingsafdeling van die aftreeoord waar Rinie Loock op hom gewag het.
Loock en Meyer het net so lekker gesels waarna die besoek in Wyk 4 van raadslid Annatjie Janse van Rensburg afgesluit is met 'n middagete in die Groenkloof-aftreeoord se eetsaal. Meyer was merkbaar beïndruk met die aftreeoorde en het opgemerk hoe mooi die tuine versorg word.
Kyk 'n video hieronder:
Meyer sê hy wil vir Suid-Afrika se ouer burgers dankie sê vir die werk wat hulle gedoen het. "Ons loop vandag op die fondasie wat 'n vroeër geslag seniorburgers vir ons geskep het. Hulle is die ambassadeurs van hoop. Die instrument wat 'n mens in die politiek nodig het, is wysheid, en ons senior burgers het wysheid met my gedeel oor hoe ons die toekomspad in Suid-Afrika moet loop."
Meyer en sy gevolg buig die hoof terwyl Julie van Ryneveldt vir hulle 'n gebed doen.
Raadslid Annatjie Janse van Rensburg, onderburgemeester Dirk Kotzé, inwoner Rinie Loock, dr Ivan Meyer, Niklaas Booisen en speaker Petru Terblanche.
Lees 'n vorige artikel: Minister besoek aftreeoorde op Groot Brak
'Ons bring jou die nuutste Groot Brak-Rivier, Tuinroete nuus'