Gallery Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - "As ons vrede op die Afrika-kontinent wil hê, moet daar stabiliteit in die landbousektor wees. My hart bloei as ek hoor van die omstandighede waaronder boere moet funksioneer, want dit is die voedselmandjie van Afrika. As jy 'n boer vermoor, het dit 'n rimpeleffek oor die hele kontinent."
Só het Wes-Kaapse minister van landbou, dr Ivan Meyer sy sterk bewoorde gesprek Maandag, 7 September op Bergsig, die plaas van Kobus en Lizelle Crous begin.
Die gesprek, met landelike veiligheid as die fokuspunt, was deel van Meyer se besoek aan die Suid-Kaap vandeesweek.
Uitvoerende lede van die munisipale raad, verteenwoordigers van boereverenigings, asook uit die veiligheidsektor was teenwoordig.
Fotogalery: Minister vasberade oor agenda vir landbou
Tydens sy besoek, het Meyer sy vyf strategiese prioriteite vir landbou bekend gestel.
Kyk 'n video hieronder:
Kort video (5:18min):
Lang video (46min):
Plaasmoorde beplan
"Daar is 16 000 boere in die Wes-Kaap, kommersieel sowel as opkomend en elkeen is van kritieke belang." Ondersteuning aan alle boere is volgens Meyer kernbelangrik omdat hulle 11% van die Wes-Kaapse ekonomie in terme van die bruto nasionale produksie en 17% van die totale arbeidsmark in die Wes-Kaap beslaan. Hy het ook gesê dat volgens Statistieke SA, is die landbousektor die enigste wat tydens die Covid-19-pandemie 'n positiewe groeikoers van 28% getoon het.
"Die moord op boere regdeur Suid-Afrika is 'n georkestreerde strategie. Dis nie toevallig nie, maar word beplan. Daar is data, wapens, 'n dag en 'n tyd." Daarom het die Wes-Kaapse kabinet 'n ministeriële asook 'n tegniese komitee vir landelike veiligheid in die lewe geroep.
"Ek is nie die minister van veligheid nie, maar ek het dit my besigheid gemaak om my mark te beskerm."
Meyer het hom daartoe verbind om self in die hof te wees tydens die vervolging van diegene wat plaasmoorde pleeg. "As jy by 'n plaasaanval betrokke is gaan jou g** nie weer die son sien nie. Ek is in die hof as die minister en ekself gaan borgtog teenstaan."
Darryl Jacobs, Meyer se adjunk-direkteur-generaal en voorsitter van die tegniese komitee, het ook tydens die gesprek breedvoerig hulle intervensies belig.
'n Nuwe psige
Meyer het die kritiese belang van opleiding, ontwikkeling en navorsing in die landbousektor in die Wes-Kaap benadruk. "Ek het 'n hutsmerk geskep, #fortheloveofagriculture, want ons moet 'n nuwe psige kweek. Deur meer landboudissiplines by skole aan te leer, skep ons 'n nuwe tipe burgerskap. Nie een student, wit, bruin of swart wat by 'n landboukollege geswot het, sien jy tyres brand of beelde afkap nie, want daar is 'n nuwe etos in daardie persoon."
Meyer het bevesig dat sy departement reeds met die Wes-Kaapse departement van onderwys oor hierdie strategiese ontwikkeling in gesprek is.
Voorts het Meyer gesê dat marktoegang kernbelangrik is. Sy departement het vroeër vanjaar groot Europese landboumarkte besoek om die Wes-Kaap aggressief te bemark. "Ons kan nie meer plant wat ons wil nie, ons moet aanpas by wat die Europese mark vir ons sê." Hy het ook sy visier op uitbreiding na markte soos Indië, China, Japan en Indonesië. Dit is in die vooruitsig om die markaandeel in die internasionale halaalmark met 100% te groei.
Ook die innoverende tegnieke wat met klimaatsverandering gepaardgaan is 'n prioriteit. "Ons moet kyk na die jongste waterverminderingstegnieke en die aanplant van alternatiewe gewasse."
Meyer het sy besoek aan Mosselbaai afgesluit op Dinsdag, 8 September toe hy verteenwoordigers van boeregemeenskappe, ook vanuit Hessequa, tydens 'n ontbyt toegespreek het.
Wes-Kaapse minister van landbou, dr Ivan Meyer. Foto's: Jannie du Plessis
Boere en verteenwoordigers van die landbouverenigings het kom luister na minister Ivan Meyer.
Vorige artikel: Minister vasberade oor agenda vir landbou
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'