MOSSELBAAI NUUS - Polisiebeamptes verbonde aan die Mosselbaai se Eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe, het op skokkende beeldmateriaal van kinderpornografie afgekom nadat hulle van die misdrywe van 'n inwoner van Bothastrand, Groot-Brakrivier, bewus geraak het.
Die polisie is ongeveer twee weke gelede van die moontlikheid van beweerde kinderpornografie op die 45-jarige man se selfoon ingelig.
Hulle het die verdagte by 'n spogwoning in Bothastrand besoek waarna die verdagte sy selfoon aan die polisie oorhandig het.
Die beeldmateriaal en foto's op die selfoon was inderdaad die van eksplisiete kinderpornografie. Die verdagte is dadelik in hegtenis geneem en is sedertdien in aanhouding in George. Hy het reeds twee keer in die Mosselbaai-landdroshof verskyn op 'n aanklag van die besit van kinderpornografie. Die verdagte se identiteit kan eers bekend gemaak word sodra hy gepleit het.
Die saak word verder ondersoek deur 'n spesialis-eenheid van Kaapstad. Die verdagte verskyn weer later vandeesmaand in die hof.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’