MOSSELBAAI NUUS - Al bly dit tragies dat jong lewens kortgeknip word as gevolg van geweldsmisdaad, het geregtigheid vir die moord op 'n 19-jarige leerder van Hillcrest Sekondêre Skool geseëvier.
Lugiano Gelderbloem is op 4 Januarie 2018 om 18:25 in Cobstraat, Uitbreiding 13 tydens onderonsie met 'n 19-jarige aanvaller, wat die vorige jaar in Groot-Brakrivier in matriek was, met 'n mes gesteek.
Gelderbloem is 'n meswond aan die bors toegedien en het later in 'n plaaslike hospitaal beswyk.
Jady André Lee is in verband met die voorval in hegtenis geneem, skuldig bevind aan moord en verlede maand in die Mosselbaai-streekhof vir sy misdaad gevonnis. Lee is tot 10 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis.
Volgens getuienis gelewer in die hof, het Gelderbloem en Lee die vorige dag, 3 Januarie 2018 'n onderonsie oor 'n meisie gehad. Die volgende dag het Lee Gelderbloem gekonfronteer en hom met 'n mes gesteek.
Gelderbloem se pa het kort na die moord in 'n onderhoud aan die Mossel Bay Advertiser vertel dat sy seun drie maande tevore 'n hartoperasie gehad het. Wat boonop die skok van sy seun se dood vererger het, is dat hy die dag voor sy pa en oupa se verjaarsdae, dood is.
Omdat Gelderbloem 'n kranige rugbyspeler was, het sy familie in Augustus 2018 tydens die jaarlikse rugby-derby tussen Hillcrest Sekondêre Skool en Hoërskool Sao Bras, 'n wisseltrofee in sy nagedagtenis aan die derby-organiseerders geskenk.
Die Advertiser het gepoog om met die familie kontak te maak om hulle kommentaar oor die uitspraak en vonnis te vra, maar kon teen druktyd nie 'n kontaknommer bekom nie.
Die saak is suksesvol ondersoek deur ao Richard van Eyck van die Da Gamaskop-speurafdeling. Adjudant-offisier van Eyck is deur sy bevelvoerder, lt-kol Maurice van Egmond met sy toegewyde ondersoekwerk, gelukgewens.
Adjudant-offisier Richard van Eyck het die saak ondersoek.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'