MOSSELBAAI NUUS - 'n Negentienjarige man, wat volgens inligting in 2017 in matriek was by die Groot-Brakrivier Sekondêre Skool is op Maandag, 8 Januarie borgtog toegestaan nadat hy voor die hof verskyn het op 'n aanklag van moord. Die moord het plaasgevind op Donderdag, 4 Januarie, die vooraand van die vrystelling van die 2017-matriekuitslae.
Volgens inligting ontvang van die Da Gamaskop-polisie, het die verdagte en die oorledene, Lugiano Gelderbloem (19), voorheen 'n graad 11-leerder aan Hillcrest Sekondêre Skool, glo op 3 Januarie handgemeen geraak. Op 4 Januarie het die twee jong mans mekaar in Cobstraat, Uitbreiding 13 by 'n huiswinkel raakgeloop waarna die verdagte Gelderbloem na bewering 'n meswond aan die bors toegedien het.
'n Nooddienswerker wat in die omgewing van die misdaadtoneel woon het Gelderbloem te hulp gesnel. Die ernstig beseerde Gelderbloem is na 'n plaaslike hospitaal geneem vir mediese behandeling. Hy het egter in die hospitaal aan sy wond beswyk.
Die verdagte is by sy huis in hegtenis geneem en het die vermeende moordwapen aan die polisie oorhandig. Met Gelderbloem se afsterwe, is die aanvanklike klag teen hom van poging tot moord, tot 'n klag van moord verander.
Die saak word ondersoek deur ao Richard van Eyck van die Da Gamaskop-polisie se speurafdeling.
'Toe stort my wêreld ineen'
Lugiano Gelderbloem se ma, Anneline het pas van die werk af gekom toe sy van die messtekery verneem. "Sy pa het my uit die Paarl gebel om te sê wat gebeur het. Ek is dadelik hospitaal toe. Hulle was nog besig met hom en het hom probeer bybring, maar toe sterf hy."
Sy is baie dankbaar teenoor die paramedikus wat haar seun bygestaan het, die ambulanspersoneel asook die dokters vir wat hulle vir haar seun probeer doen het.
"En vir al die vriende, syne en myne wat vir ons ondersteun. Baie dankie."
Clinton Windvogel, Gelderbloem se pa sê dat 'n niggie hom telefonies van die messtekery in kennis gestel het. "Ek was met vakansie. Dis moeilik as 'n mens so ver is. Jy hoor so iets en jy hoop en bid maar."
Na 'n tydperk van heen en weer bel, het Windvogel se pa die slegte nuus aan hom oorgedra. "En toe stort my wêreld ineen." Windvogel vertel dat sy seun so onlangs soos drie maande gelede 'n suksesvolle hartoperasie gehad het en "toe word hy gesteek in die einste hart".
"Die ergste nog, is dat Lugiano die dag voor my en sy oupa se verjaarsdae, 5 Januarie oorlede is. Hy was 'n lieflike mens. Nooit onbeskof op die pad nie. Altyd seker gemaak hy groet. Hy het nie verdien om so te sterf nie."
Lugiano Gelderbloem word môre, 13 Januarie begrawe. Die huisdiens is om 10:00 by Barracudastraat 95, Uitbreiding 13 gevolg deur die kerkdiens om 11:00 by die All Saints-kerk, Uitbreiding 8.
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'