MOSSELBAAI NUUS - Bykans 'n jaar nadat 'n graad 1-leerder van Laerskool Hartenbos deur 'n afleweringsvoertuig getref is toe hy te voet op pad huis toe was, is daar eindelik uitkoms wat betref leerdervervoer vanaf Sonskynvallei.
Devan Williams het 'n kopbesering opgedoen wat die verloop van sy lewe sedert 12 Junie, ingrypend verander het. Dít het inwoners van Sonskynvallei aangespoor om alles in die stryd te werp om te verseker dat hulle kinders die skool veilig bereik.
'n Week nadat die skole te midde van die Covid-19-pandemie heropen het, is kennis vandeesweek Maandag vanaf die Wes-Kaapse minister van onderwys, Debbie Schäfer ontvang, dat gesubsidieerde vervoer goedgekeur is.
'n Lang pad
Die Mossel Bay Advertiser het die afgelope paar jaar herhaaldelik berig oor die leerdervervoerkwessie van Sonskynvallei. Laerskool Hartenbos se aansoek om vervoer is voorheen afgekeur aangesien die verskaffing van gesubsidieerde vervoer volgens die Wes-Kaapse Onderwysdepartement se beleid slegs van toepassing is op leerders wat 5km en verder vanaf die skool bly. Sonskynvallei se leerders stap 2.3km langs die gevaarlike R102 wat hulle boonop moet kruis om by die skool te kom.
'n Aksiekomitee, bestaande uit inwoners van Sonskynvallei het hulle beywer om werk te maak van die vervoerkwessie. Hulle sterkste betoog was 'n hooggeregshofuitspraak deur regter Clive Plasket, waarin beslis is dat die afstandsreël slegs 'n riglyn behoort te wees.
Met minister Schäfer se besoek aan Mosselbaai in Januarie vanjaar, is die erns van die vervoerkwessie tydens 'n driftige vergadering uitgestip. Schäfer het Sonskynvallei en die R102 hierna besoek en haarself vergewis van die gevare op dié pad. Die skool het gevolglik weer aansoek om leerdervervoer gedoen en na drie maande, is 'n tydelike oplossing in plek, aldus minister Schäfer se skrywe vandeesweek. Navrae is aan die minister se kantoor gestuur en verwys na die WKOD vir meer inligting, maar teen druktyd was die besonderhede nog nie beskikbaar nie.
Alles die moeite werd
Daphne Janes van die aksiekomiteelede, het by navraag gesê dat die minister se toegewing baie verligting bring. "Die grootste uitdaging was om die grootkoppe te kry om te kom kyk hoe die roete lyk. Dit het gevoel ons kry nie hulp nie, maar toe die kringbestuurder en die minister self kom kyk, het dinge begin gebeur."
Janes meen die skoolhoof, Werner van Huyssteen het uit sy pad gegaan om te help. "Ons loop nou 'n mooi oop pad en het 'n persoonlike verhouding. Daar was tye dat frustrasie wou maak dat mense die pad toemaak, maar geweld en protes is nie die regte manier nie. As ons met mekaar kan praat, kan ons beter regkom."
Van Huyssteen meen dat leerders se veiligheid nog altyd die skool se hoogste prioriteit was.
"Ons leerders van Sonskynvallei moes oor jare gevaar trotseer om skool toe te kom en kon nie die voordeel van 'n gesubsidieerde bussie hê wat deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement betaal is nie. Ons is baie, baie dankbaar oor die toegewing."
Daphne Janes (Sonksynvallei-aksiekomitee) en Werner van Huyssteen (skoolhoof van Laerskool Hartenbos) saam met die graad 7-leerders van Sonskynvallei wie se gesubsidieerde vervoer eindelik na 'n lang stryd goedgekeur is. Foto: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'