MOSSELBAAI NUUS - Na 'n by tye driftige vergadering in die munisipale raadsaal verlede Donderdag, 30 Januarie met ringkoppe van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, voel die Sonskynvalleiers, hoewel daar geen konkrete uitsluitsel oor die voortslepende leerdervervoerkwessie is nie, of hulle tóg oplaas gehoor is.
Gesprekvoering het plaasgevind tussen die Wes-Kaapse minister van onderwys, Debbie Schäfer, die adjunk-direkteur-generaal van opvoedkundige beplanning by die WKOD, Salie Abrahams en verteenwoordigers uit die Sonskynvallei-gemeenskap.
Die uitvoerende burgemeester en uitvoerende lede van die burgemeesterskomitee het ook die vergadering bygewoon.
Draaipunt
Die Mossel Bay Advertiser het in die verlede herhaaldelik berig oor die vervoerkwessie rakende leerders wat vanaf Sonskynvallei by Laerskool Hartenbos moet kom. Die WKOD het telkens by navraag gesê dat, aangesien die leerders minder as 5km vanaf die skool woon, hulle nie volgens die departement se beleid vir die verskaffing van gesubsidieerde vervoer kwalifiseer nie.
Volgens inligting, het Laerskool Hartenbos in 2015 vir leerdervervoer by die WKOD aansoek gedoen, maar dit is afgekeur.
Hierna is nie weer aansoek gedoen nie. Verskeie inisiatiewe is intussen voorgestel om leerders, wat te voet die besige R328 moet oorsteek op pad skool toe, te beveilig. Een hiervan was die sogenaamde voetebus, waarvolgens volwasse persone die kinders te voet skool toe en terug vergesel. Die inisiatief blyk nie volhoubaar te gewees het nie.
Die draaipunt was toe die sewejarige Devan Williams op Woensdag, 12 Junie omstreeks 14:00 raakgery is. Hy was te voet op pad in die rigting van Sonskynvallei op Louis Fourieweg toe 'n Hyundai H100-trokkie hom getref het. Devan het ernstige hoofbeserings opgedoen. 'n Ingeligte bron het by navraag bevestig dat Devan vandeesweek weer eens mediese behandeling moes kry. "Hy sal nooit weer dieselfde wees nie," het die bron gesê.
Komitee gestig
Sedert Devan se ongeluk, is die gemeenskap van Sonskynvallei bemagtig om hulle te beywer vir wat hulle glo hulle kinders se konstitusionele reg is volgens Seksie 29 van die Suid-Afrikaanse Grondwet. 'n Komitee is gestig wat onder meer die WKOD se 5km-reël bevraagteken, aan die hand van 'n hooggeregshofuitspraak deur regter Clive Plasket.
In hierdie uitspraak (Junie 2015), het regter Plasket gesê dat die afstandreël slegs as riglyn gebruik behoort te word. Volgens dié uitspraak teen onder andere drie Oos-Kaapse skole waarin gesubsidieerde vervoer deur die onderwysdepartement in die provinsie geweier is, meen regter Plasket dat die reg op onderwys betekenisloos is sonder vervoer na en vanaf die skool op die staat se onkoste in toepaslike gevalle.
Die komitee meen ook dat van die kinders wat tans op privaat vervoer aangewese is, dit nie kan bekostig nie. "Van die kinders kry SASSA-geld. Dit is broodgeld. Hoe kan daar R300 per maand aan vervoer betaal word, as die toelaag maar R440 is?" meen 'n komiteelid.
Verder voer komiteelede aan dat die gevaar op die R328, genoeg rede is vir die gunstige oorweging van gesubsidieerde vervoer. "Devan is 'n wandelende bewys van hoe gevaarlik die pad is. Net soveel vir volwassenes."
Volgens Werner van Huyssteen, skoolhoof van Laerskool Hartenbos, is 10% van sy skool se 1 000 leerders afkomstig van Sonskynvallei. Van Huyssteen het by navraag aan die Advertiser gesê dat 87 van hierdie leerders tans privaat vervoer tot by die skool het. Dit laat 24 leerders wat tans te voet die skool bereik. Hy sê tans is daar geen graad R- of graad 1-leerders onder hierdie groep nie.
Met die Advertiser se besoek aan die skool vandeesweek, het Van Huyssteen bevestig dat, na aanleiding van verlede week se vergadering met minister Schäfer, die skool weer besig is met 'n aansoek om gesubsidieerde vervoer te bekom, hierdie keer in oorleg met die ouergemeenskap van Sonskynvallei.
"Sedert verlede week, het die hoof reeds met ons kontak gemaak rakende die aansoek soos die minister aanbeveel het. Ek wil glo ons gaan nou vorder," bevestig die voorsitter van die komitee.
Van Huyssteen het ook aan die Advertiser genoem dat inidvidue uit die Hartenbos-gemeenskap aangedui het dat hulle by leerdervervoer betrokke sou wou raak. "Dit is egter nie 'n oornagproses nie. Daar moet aansoek gedoen word vir al die nodige permitte en dies meer."
Roete besoek
Tydens haar besoek het minister Schäfer die roete waarlangs Sonskynvallei se kinders skool toe loop besoek om haarself te vergewis van die situasie. In 'n verslag ná die vergadering, maak sy melding dat die 5km-reël ter syde gestel kán word vir veiligheidsredes, maar sy maak dit duidelik dat redes ernstig van aard en gebaseer op feite moet wees.
Schäfer het opnuut verwys na die beperkte begroting en het onomwonde gesê dat haar departement nie padveiligheidskwessies alleen kan aanspreek nie. Sy het 'n beroep gedoen op die munisipaliteit, skole, ander departemente asook die gemeenskap om saam te werk om langtermyn oplossings te vind vir vervoeruitdagings.
Schäfer het gesê dat die aansoek feitelike inligting moet bevat soos terugvoering aangaande die voetebus, asook bewyse van waar en wanneer leerders op die roete skool toe beseer is. Sy het gevra dat probleemareas, asook alternatiewe langtermyn oplossings voorgehou moet word sodat die departement 'n tydelike oplossing kan bied totdat 'n langtermyn oplossing gevind is.
Ander aspekte wat ook bespreek is, is die moontlike aanpassing van die spoedgrens op die R328, die afwesigheid van padtekens om aan te dui dat voetgangers die pad mag kruis, die tekort aan voetgangeroorgange, die geplaveide voetgangerpad wat aan die oorkant van Sonskynvallei gebou is en leerders steeds noodsaak om die pad te kruis voor hulle daarlangs kan loop en die weersomstandighede waaraan leerders wat te voet is onderwerp word.
Minister Schäfer het ook onderneem om hierdie kwessies met die departemente openbare werke en vervoer op te neem.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'