MOSSELBAAI NUUS - Jy kan dalk nog daarmee wegkom om hulle te vloek, maar moenie hulle oud noem nie!
Só meen Steve Ashley (77) oor homself en Brian le Gassick (82). Hierdie twee legendes is die spreekwoordelike last men standing van The Staccatos, wat amptelik erken word as die band wat vandag al die langste in Suid-Afrika bestaan.
As hulle name jou geheue nie prikkel nie, mag treffers soos "Cry to Me", "Butchers and Bakers" en "Come Back, Silly Girl" dit dalk doen.
Dié manne en hul treffers was van 16 tot 18 April aan die Tuinroete; eers by die George-kunsteteater, toe Reed Valley buite Mosselbaai, en daarna in Knysna by die Blend Country-restaurant.
Mossel Bay Advertiser het hulle in Danabaai ontmoet vir 'n terugblik op meer as ses dekades in die musiekbedryf.
Dié groep is as 't ware deur elke era van musiek; van langspeelplate, kassette en hul destydse tieneraanhangers se garage parties en matriekdanse, tot die eerste dae van televisie, die oorskakeling na CD's en vandag se digitale musiekplatforms.
Oor die jare sedert Brian The Staccatos in 1961 gestig het, was daar heelwat lede betrokke. Steve self het eers in die vroeë 80's aangesluit.
Die groep het in 1999 ontbind, maar te danke aan Steve se vrou, Ebeth (toe nog 'n Loots), het The Staccatos weer die lig gesien.
Sy bestuur sedert 2015 Steve se sololoopbaan, en dis in hierdie tyd wat sy die idee gekry het. "Hoekom bring ons nie weer The Staccatos terug in 2019 nie?" het sy vir Steve gevra.
"Toe lag ek net. Toe sê ek: 'No, you must be crazy. All our fans are either in the old age home or dead!'" sê Steve. "Ek moes toe om verskoning vra... As dit nie vir haar was nie... Sy't ons so te sê van die rak afgehaal, afgestof en onder ons... agterstewe geskop."
Pamflette wat The Staccatos se lede in die 1960’s met gom van meel en water op lamppale en enige ander gepaste plek sou plak. Foto: Verskaf
Hy en Ebeth is in 2023 getroud. En nou is hulle besiger as ooit, én die aanhangers is toe nie almal so oud nie - sommiges is in hulle 30's en 40's.
Dit het effens langer geneem om vir Brian te oortuig. Die drie lag en sê Ebeth dreig hom nou elke dag dat sy hom sal laat sing tot hy 90 is, aangesien dit sowat twee jaar van soebat gekos het om hom weer aanboord te kry. Hy het nie gedink dit sou werk nie. "Ek het gedink, 'Wie wil 'n outoppie wat daar op die verhoog rondspring sien? Seker niemand nie,'" sê hy.
Brian het The Staccatos in sy matriekjaar by Damelin College begin. 'n Vriend van hom het in daardie jaar 'n kitaar gekry, en Brian het hom so gekyk en gedink, as hy dit kan doen, kan ek ook.
"Dit was seker later daai jaar, toe het ons net as vriende bymekaargekom, ander guitarists gekry en net rondgespeel, vir onsself."
En wat begin het as 'n paar huispartytjies het van daar af net aanhou groei.
Eers wen hulle 'n kompetisie wat 'n kontrak met EMI ingesluit het, daarna is hulle na Teal Records toe, en toe hulle weer sien, het hulle in 1965 'n enkelsnit wat nommer twee op die ou Springbok Radio Treffersparade haal - "Come Back, Silly Girl".
"Cry to Me" is tot vandag toe nog een van die groep se grootste treffers. Foto: Verskaf
Brian sê dis ook nie eers asof hulle noodwendig faam verwag of beplan het nie. "Ons het net lekker saam gespeel. Die hele ding het net om ons gebeur."
En die res is geskiedenis. 'n Geskiedenis wat Brian en Steve nog aktief uitleef en sal blý uitleef so lank as wat die stemme en gesondheid hou.
Steve sê wat hy dink die mense van hulle vertonings waardeer is die feit dat hulle nie net op die verhoog sít nie.
"Ons rock nog vir twee uur. Ek dink dit is wat mense aantrek, hulle kan dit nie glo nie. Ons geniet dit so; ons het nog die passie. Ons spring rond en ons kry die gehoor betrokke."
As hulle destyds se vertonings met vandag s'n vergelyk, som Ebeth dit sommer vinnig op: "Destyds was hulle 'n party band, en nou is hulle 'n show band."
Daardie jare het mense ingekom en gedans en partytjie gehou, vandag kom die gehoor om na hulle te kýk. En volgens die terugvoer is hulle nooit 'n teleurstelling nie.
Steve spot en sê in die ou dae het die meisies hulle onderklere op die verhoog gegooi, nou gooi die tannies hulle vals tande en gehoortoestelle!
The Staccatos se Brian le Gassick en Steve Ashley tydens een van hul onlangse vertonings. Foto: Verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’