MOSSELBAAI NUUS - Verlede Donderdag, 14 April op die vooraand van Paasnaweek het die gemeenskap hulle solidariteit getoon met klein Leah-Rose van Staden.
Die kanale wat die amniotiese vloeistof binne die baarmoeder bevat, het om Leah-Rose se liggaampie gedraai en om haar regterbeentjie gebind.
Dit het veroorsaak dat sy met slegs 'n linkerbeentjie gebore is.
Haar handjies is ook geaffekteer. Sy sal 'n reeks operasies moet ondergaan om haar lewenskwaliteit te verbeter.
Die munisipaliteit het toestemming gegee dat 'n boom by Marlinstraat 135 as deel van 'n bewusmakingsproses vir Leah-Rose se sindroom bekend as amniotic band syndrome, in oranje materiaal toegedraai word.
Die boom is geleë naby die Lighthouse Assemblies of God-gemeente, waar Leah-Rose 'n bekende is.
Verskeie sprekers insluitend raadsdame Rosina Ruiters, pastore Debbie Benjamin en Fostino Jacobs het die teenwoordiges toegespreek.
In Junie 2021 het Leah-Rose haar eerste operasie aan haar been en voet ondergaan. Haar linkervoet is ook gebreek in 'n poging om dit met behulp van 'n metaalinplanting reguit te kry.
Volgens Leah-Rose se ma, Lenor gaan dit goed.
"Sy doen wonders met haar sterk handjie.
Sy is op daardie oomblik in haar lewe waar sy lank staar na haar hand met die klein vingertjies.
Dit maak ons emosioneel, maar ons het vrede met haar kondisie gemaak. Wat die linkerbeen betref oefen ons daagliks by die huis."
Op 30 April om 17:00 word 'n vrouekonferensie gehou om geld in te samel vir Leah-Rose se pad vorentoe.
Die sprekers is Anita Pieterse en Annabell October. Die tema is Through it all.
Kaartjies kos R200. Vir meer inligting kontak Bronwyn Adonis (078 391 5898).
Vorige artikel: Leah-Rose wil voluit leef
Michelle Saayman en Leah-Rose se pa, Reagan McBean draai die boom sorgvuldig toe.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'