Gallery Update Video
MOSSELBAAI NUUS - Bykans R8 miljoen is bestee aan die sewe nuwe klaskamers wat vandeesweek by Laerskool Hartenbos amptelik ingewy is.
Hoof van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, Brian Schreuder, wat onder die etlike eregaste was wat die besonderse geleentheid op Dinsdag, 2 Maart bygewoon het, het in sy toespraak gesê dat die belegging in die skool in lyn is met die departement se strategie om kwaliteit-onderwys in die provinsie uit te bou.
"Die breë visie van die WKOD is om kwaliteit-onderwys te bied aan elke kind in elke klaskamer in die hele provinsie. Een manier om dit te doen, is om kwaliteit-skole te identifiseer en hulle uit te brei, maar die teenprestasie is dat so 'n skool moet uitreik, nie net na Hartenbos se kinders nie, maar die skool moet transformeer om te presteer. Ons kan nie rus voor ongelykhede nie verklein is nie," het Schreuder gesê.
Fotogalery: Feesvieringe by Laerskool Hartenbos
Schreuder, wat binnekort na 47½ jaar uit die onderwys tree, het die skool geloof vir die waardes waarop hulle fokus en het voorgestel dat dit aktiewe besprekingspunte word in die ontwikkeling van waardegedrewe leierskap onder leerders.
Die skoolhoof, Werner van Huyssteen het gesê dat die aanbou van die klaskamers, veral deur die toenemende migrasie na die Wes-Kaap en veral aantrekkingskrag van die Tuinroete vir nuwe intrekkers genoop is. Hy het gesê dat dié stap die skool se leuse vir 2021 naamlik, 'Ons is die toekoms', 'n goeie hupstoot gee.
Kyk 'n video hieronder:
Bome
Nog een van die besonderse projekte wat tydens die geleentheid van stapel gestuur is, is die skool se boomplantprojek.
In 2020 het botanis dr Ernst van Jaarsveld die skool besoek op versoek van sakevrou en apteker, Gerda Visagie en Jan Odendaal van Green for Life, om kundige voorstelle te maak aangaande watter bome die beste op die skoolterrein sal aard, gegewe die klimaat en grondtipe. Hierdie boomplantprojek by die skool hang saam met die beplande aanplant van bome om die ATKV se 90ste bestaansjaar vanjaar te vier.
Visagie, 'n Namibiër van oorsprong, het gesê dat sy al meer as 30 jaar sedert sy in Mosselbaai aangekom het, van 'n sodanige boomplantprojek vir die dorp droom. Met die wys van 'n paar foto's waar bome in Namibië in 'n woestyngebied groei, het sy aan die graad 7-leerders teenwoordig gesê dat enigiets moontlik is deur middel van water en wilskrag.
Die bome wat by die skool aangeplant word se rol is tweedoelig. Om meer skadu op die terrein te bied, maar ook as 'n huldiging van vorige skoolhoofde.
Tydens die geleentheid is die skool se sportvelde ook amptelik na vier van die skool se vorige hoofde vernoem. Dit sluit in die eerste hoof, Jan Volschenk (1933-1971, Danie Ackerman (1972-1994), Cassie Carstens (1995-1999) en Barry Oosthuizen (1999-2018). Ackerman, Oosthuizen en Volschenk se seun, Jan het die feesvieringe Dinsdag bygewoon waartydens die name van elk van die vier sportveld seremonieel onthul is. Gedurende sy tyd as skoolhoof, het Ackerman 'n groot hand gehad in die aanplant van die bome wat tans die sportveld omsoom.
Voglens Jan Odendaal van Green for Life is dat daar syns insiens geen beter manier om aan iemand erkenning te gee as om 'n boom vir hom of haar te plant nie. Hy het aan die graad 7-leerders wat die byeenkoms bygewoon het uitgewys watter verskil jongmense uit verskillende gemeenskappe as brugbouers kan maak deur bome te plant.
"Covid-19 is 'n virus wat ons longe en asemhaling aantas. Dit het ons van ons suurstof kom beroof. Deur bome te plant gee ons mekaar meer suurstof. Boonop roei konflik ons uit. Ons het die koelte van bome in ons land nodig waar ons met mekaar kan praat."
Hoof van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, Brian Schreuder het die nuwe klaskamers amptelik geopen. Foto: Cornelle Carstens
Oud-skoolhoof (1972-1994), Danie Ackerman plant 'n boom. Hy het van die bome op Laerskool Hartenbos se sportgrond destyds geplant.
Oud-skoolhoof Danie Ackerman tydens die onthulling van die sportveld wat na hom vernoem is. By hom is sakevrou en apteker, Gerda Visagie.
Gerda Visagie, sakevrou en apteker ondersteun oud-skoolhoof Danie Ackerman tydens die boomplanting. Foto: Cornelle Carstens
Vorige artikel: Laerskool Hartenbos gaan toekoms tegemoet
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'