MOSSELBAAI NUUS - Op twee na is die KwaNonqaba-polisie se kommunikasiebeampte, sers Kapp, die beste polisiebeampte in Suid-Afrika.
Hierdie spogtoekenning is onlangs gemaak tydens die SA Polisie se Prestige-toekenningsgeleentheid en is 'n besondere prestasie, in ag genome dat hy bo duisende ander polisielede verkies is.
Die stasiekommissaris van die KwaNonqaba-polisie, lt kol Johan Braaff, het sers Kapp met die besondere eer gelukgewens.
"Ek is nie verbaas nie, sedert die ontstaan van die SA Polisie se Prestige-toekennings het dié polisiestasie nog elke jaar met 'n toekenning gespog, sers Kapp het die maatstaf nou net 'n bietjie hoër gestel vir die lede wat hom dit nou moet nadoen."
Sersant Kapp, daarenteen, is meer beskeie en bedank die lede van die KwaNonqaba-polisiestasie en veral kapt TC le Roux, wat hom vir die toekenning genomineer het.
"Ek volg in groot voetspore, maar is dankbaar vir die toekenning."
Baie trots op die prestasie van sers Kapp, wat as tweede naaswenner aangewys is in die kategorie: Beste polisiema, wens die bevelvoerende offisier van die KwaNonqaba-polisiestasie, lt kol Johan Braaff, hom geluk.
ARTIKEL EN FOTO'S: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER NUUS REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'