Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Te midde van 'n drie wettige optogte in Mosselbaai vandeesweek waartydens lede van die gemeenskap dergerlike griewe bekend gemaak het, het die ouer- en leerdergemeenskap van Sonskynvallei ook inisiatief geneem.
Te midde van gerugte wat vandeesweek die ronde gedoen het dat leerders spesifiek op 13 Februarie verhoed sou word om skool toe te gaan, het Sonskynvallei se ouers besluit om 'n ander benadering te volg, terwyl hulle terselfdertyd die owerhede herinner aan die noodsaaklikheid van veilige toegang na Laerskool Hartenbos.
Dít volg op 'n bespreking van die vervoerkwessie tydens 'n besoek van die Wes-Kaapse minister van onderwys, Debbie Schäfer, waaroor die Mossel Bay Advertiser verlede week berig het.
Leerders van Sonskynvallei wat by Laerskool Hartenbos skoolgaan, kwalifiseer tans nie vir gesubsidieerde vervoer omdat hulle glo minder as 5km van die skool af woon. Die WKOD stipuleer dat die minimum afstand 5km is.
'n Aksiekomitee in Sonskynvallei, in samewerking met die skool, is egter tans op aanbeveling van die minister besig om 'n nuwe aansoek te bring vir leerdervervoer op grond van onder meer die onveiligheid van die roete langs die R328.
Devan Muller van Sonksynvallei, 'n leerder aan Laerskool Hartenbos is verlede jaar in Junie raakgery en het erge beserings opgedoen.
Kruise op die pad
Ouers en leerders geklee in hulle skooluniforms het Dinsdagaand, 11 Februarie in Sonskynvallei byeengekom, gebid en toe langs die R328 blou en wit kruise geplant op hulle normale roete skool toe. Die kruise is verskaf deur anonieme skenkers wat die saak ondersteun.
Die organiseerders meen dat die staptog 'n vreedsame gebaar is om God te vertrou vir 'n positiewe uitkoms wat leerdervervoer betref. Ouers en kinders, in hulle skooluniforms, het die staptog saam aangepak.
'n Kruis is ook geplant waar Devan Williams gelê het nadat hy deur 'n voertuig getref is.
"Ons wou God nader bring aan ons probleem en vertrou op Hom vir 'n vreedsame oplossing," sê Jacobus Mcube. "Ons het baie vrede ná die staptog."
Kyk 'n video hieronder:
'n Ander komiteelid berig dat hulle optog heelwat aandag getrek het. "Motoriste het vriendelik reageer toe ons aangedui het dat hulle stadiger moet ry. Mense in Hartenbos Heuwels het selfs uit hulle huise gekom om te vra wat maak ons. Ons het in 'n baie goeie gees gestap, want ons het saam gebid voor ons begin het en ook by die omdraaipunt."
Sedert die minister se besoek op 30 Januarie, word die aansoek om leerdervervoer in oorleg met die Sonskynvallei-gemeenskap voorberei. Die skoolhoof, Werner van Huyssteen het by navraag bevestig dat hy sedert die minister se besoek gereeld skakel met die komitee. Van Huyssteen het ook gesê dat die WKOD-kringbestuurder die skool vandeesweek besoek wanneer die aansoek voorgelê sal word vir insae.
"Die sluitingsdatum vir die aansoek is Vrydag, 14 Februarie," het Van Huyssteen gesê.
Kinders van Sonskynvallei wat by Laerskool Hartenbos skoolgaan, het saam met hulle ouers aan 'n vreedsame optog deelgeneem hierdie week. Foto's: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'