Update
MOSSELBAAI NUUS - Die gemeenskap van Aslapark wat toenemend onder kragdiewe deurloop, het Sondagaand oproerig geraak toe die elektrisiteitstoevoer nogmaals onderbreek is.
Vroeg Maandagoggend het verteenwoordigers van die formele gemeenskap in Dubestraat met die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, die protefeuljevoorsitter vir tegniese dienste, raadslid Anton Dellemijn, asook die Icosa-raadslid, Dawid Kamfer en ACDP-raadslid, Jeanette Gouws vergader om oplossings vir die voortdurende probleem van elektrisiteitsonderbrekings te bekom.
Tydens hierdie vergadering het die burgemeester gesê dat, hoewel hy nie oor die detail van die voorgenome planne kan uitwei nie, daar daadwerklike optrede sal volg om die gemeenskap van Dubestraat teen die intimidasie deur mense uit die informele nedersetting te vrywaar en om 'n einde te maak aan die voortdurende elektrisiteitsonderbrekings.
Sondag
Hierdie vergadering het gevolg op dreigende onrus in die area nadat die twee gemeenskappe op Sondagaand, 10 Junie byna handgemeen geraak het.
Munisipale personeel, wetstoepassers en die KwaNonqaba-polisie moes bontstaan om die orde te herstel en uiteindelik is die hulp van die polisie se openbare orde-eenheid en die Icosa-raadslid, Dawid Kamfer, ingeroep.
Die wettige inwoners wat hul swaarverdiende geld gebruik om elektrisiteit wettig te koop, het behoorlik sat geword vir die voortdurende kragonderbrekings wat volg wanneer die informele nedersetting, wat op privaatgrond met rasse skrede toeneem, elektrisiteit wederregtelik van die kragpale in hul erwe steel. Sondagaand is weer eens aangedring om toegang tot die kragpale te kry en is die inwoners van die formele huise weer met kapmesse gedreig.
Beide die polisie en raadslid Kamfer moes bemiddel om te verhoed dat geweld uitbreek nadat die wettige inwoners skynbaar wet in eie hande geneem het en ten minste een informele struktuur beskadig het in hul poging om dit af te breek. Die polisie moes tussenbeide tree en het van die mense na veiligheid geneem om verdere geweld en veral beserings te voorkom.
Volgens raadslid Kamfer is gemoedere plofbaar en het dit Sondagaand behoorlike oorredingsvermoë gekos om die gemeenskap van hul planne te laat afsien om die kragdiewe aan die pen te laat ry.
Die gemeenskap het vroeër ook teenoor die Mossel Bay Advertiser beweer dat die informele nedersetting se inwoners hulle selfs met kapmesse dreig om toegang tot die kragpale in privaaterwe te kry om onwettige aansluitings te maak. Boonop, sê raadslid Kamfer, moet die polisie die toerusting en kabels waarmee die onwettige aansluitings.
Sommige van die verteenwoordigers van die Dubestraatgemeenskap wat Maandagoggend met die Mosselbaai munisipaliteit beraadslaag het oor die nimmereindigende probleme wat hulle met veral elektrisiteitsonderbrekings ondervind. Foto: Nickey le Roux
Intussen het die portefeuljevoorsitter vir tegniese dienste en veiligheid, raadslid Anton Dellemijn met die bevelstruktuur van die polisie se Da Gamaskop Cluster ooreengekom dat 'n groter polisieteenwoordigheid in die area gehandhaaf sal word. Die polisie en gemeenskapspolisiëringsforum sal ook openbare vergaderings met die betrokke gemeenskappe hou om die diefstal van elektrisiteit aan te spreek.
Raadslid Gouws het 'n drieledige benadering tot die probleem bepleit. Sy het gevra dat in die korttermyn die onwettige aansluitings dringend verwyder moet word en dat die verlengkoorde tegelykertyd deur die munisipaliteit en polisie verwyder moet word om die herkoppelings te ontmoedig. Sy het ook gevra dat ondersoek ingestel moet word na beweringe dat munisipale personeel en polisielede bydra tot die onwettige kragaansluitings.
Die wettige gemeenskap van Aslapark het Sondagaand reg in eie hande geneem en ten minste een onwettige informele struktuur begin afbreek in hul poging om die kragdiewe hok te slaan.
Daarbenewens het sy gevra dat dringende gesprekvoering ook met diegene wat in die informele area woon, moet volg. Sy het ook aanbeveel dat 'n komitee van beide die geformaliseerde woongebied en informele area in samewerking met die munisipaliteit oor oplossings moet besin.
Lees 'n vorige artikel: Kragdiewe vasgevat
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'