MOSSELBAAI NUUS - Die gemeenskap van Aslapark wat toenemend onder kragdiewe deurloop, het Sondagaand oproerig geraak toe die elektrisiteitstoevoer weer eens onderbreek is.
Munisipale personeel, wetstoepassers en die KwaNonqaba-polisie moes bontstaan om die orde te herstel en uiteindelik is die hulp van die polisie se openbare orde-eenheid en die Icosa-verteenwoordiger in die munisipale raad, raadslid Dawid Kamfer ingeroep.
Die wettige inwoners wat hul swaarverdiende geld gebruik om hul elektrisiteit wettig te koop, het behoorlik sat geword vir die voortdurende kragonderbrekings wat volg wanneer die informele nedersetting, wat op privaatgrond met rasse skrede toeneem, elektrisiteit wederregtelik van die kragpale steel.
Beide die polisie en raadslid Kamfer moes bemiddel om te verhoed dat geweld uitbreek nadat die wettige inwoners skynbaar wet in eie hande geneem het en ten minste een informele struktuur beskadig het in hul poging om dit af te breek.
Die polisie moes tussenbeide tree en het van die mense na veiligheid geneem om verdere geweld en veral beserings te voorkom.
Die wettige gemeenskap van Aslapark het Sondagaand reg in eie hande geneem en ten minste een onwettige informele struktuur begin afbreek in hul poging om die kragdiewe hok te slaan.
Volgens raadslid Kamfer is gemoedere plofbaar en het dit uiterste oorredingsvermoë gekos om die gemeenskap van hul planne te laat afsien om die kragdiewe aan die pen te laat ry. Hy het die gemeenskap die onderneming gegee dat hy 'n vergadering met die munisipaliteit sal belê om dringend met 'n oplossing vorendag te kom.
Die gemeenskap het vroeër beweer dat die informele nedersetting se inwoners hulle selfs met kapmesse dreig om toegang tot kragpale in privaaterwe te kry sodat onwettige aansluitings gedoen kan word.
Nou, sê raadslid Kamfer, vra die wettige gemeenskap dat dringend alternatiewe oplossings gevind moet word sodat hul veiligheid verseker kan word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'