Update
MOSSELBAAI NUUS - Inwoners op Mosselbaai het vir weke aaneen gewonder oor 'n vreemde bulkgeluid - amper soos die van 'n koei. Die gebulk is gereeld in die vroeë oggendure in die onderdorp naby die hawe gehoor.
Verskeie inwoners het gewonder of iemand dalk 'n koei in hulle agterplaas aanhou. Ander het weer gemeen dit is iemand wat op 'n horing blaas.
Die opsie dat walvisse die geluid maak is ook genoem, terwyl sommiges van mening was dat dit 'n rob is wat so raas.
Val Marsh van die organisasie Stranded Marine Animal Rescue Team (S.M.A.R.T.) het aan Mossel Bay Advertiser bevestig dat hulle 'n vrywilliger uitgestuur het om die oorsprong van die geluid te ondersoek.
"Ons vrywilliger het toestemming gekry om by die hawe in te gaan en die mense daar weet presies wat so maak. Dit is 'n baie groot rob wat al 'n hele paar maande daar rondhang. Wanneer die visserskuite inkom begin die rob sulke geluide maak omdat hy weet waar sy volgende maaltyd vandaan kom. Hy verwelkom die visserskuite wanneer hulle die hawe inkom."
Die rob het glo 'n (see)leeu se aptyt!
Vorige artikel: Gebulk in onderdorp bevraagteken
'Ons bring jou die nuutste Groot-brak, Tuinroete nuus'