Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Jacob Karelse, bekende meestersatleet van Mosselbaai neem op 10 Junie aan sy 30ste Comrades-marathon deel en vier in September sy 60ste verjaarsdag.
Hy is een van die stigterslede van Mosselbaai Harriers-atletiekklub wat in 1986 gestig is. Jacob vertel dat hy na sy eerste Comrades so moeg en seer was dat hy gedink het: "As Jesus en sy dissipels hier verbyloop en Jesus sê 'Kom', sou ek gesê het, 'Nee, ek is te moeg om op te staan.'"
Jacob, van Uitbreiding 8, Mosselbaai, het tydens sy eerste Comrades in die Kingsmead-stadion in Durban gewonder hoe hy sy vriend en oefenmaat, Selwyn Losper, ook van Mosselbaai, tussen die massas mense gaan vind.
Toe hulle mekaar kry, sê Jacob: "Weet jy wat?" Selwyn het geantwoord dat hy reeds weet wat Jacob wou sê. Want op pad het Jacob reeds aan sy vriend gese: "Ek gaan dit nooit weer doen nie." Die twee het saamgestem hieroor. Maar vanjaar gaan albei van hulle hul 30ste Comrades aanpak.
"Mense vra wanneer ek gaan ophou," sê Jacob. Hy meen, na sy 35ste een." Jacob spog met vier silwer medaljes. Dit beteken dat hy die marathon binne 7.5 uur klaargemaak het.
Jacob het alreeds 31 Two Oceans-wedlope voltooi.
Voorheen was hy voorsitter van die Mosselbaai Harriers. Verlede jaar was hy ondervoorsitter en sedert die mees onlangse verkiesing, is hy 'n addisionele lid en gee hy afrigting aan die junior atlete.
Kyk 'n video hieronder.
Van Jacob Karelse se trofeë wat hy as Harriers-klubdeelnemer by wedlope verower het.
Oefenmaat
"Ek en Selwyn is sedert 1986 oefenmaats. Hillcrest het daardie jaar 'n wedloop aangebied. Dit was in die Heiderand-gebied. Heiderand het nie eers bestaan nie; dit was slegs bosse.
Selwyn het vir Young Blues rugby gespeel en Jacob vir Spring Roses.
"Ek het hom oorreed om rugby te los en te begin hardloop en ons het nie teruggekyk nie."
Jacob onthou met humor hulle eerste reis na die Comrades. "Ons was in die Transkei en op pad Durban toe. Dit was toe Transkei nog onafhanklik van Suid-Afrika was. Jy moes jou ID by jou hê. Selwyn, steeds 'n polisieman, het slegs sy polisiekaart by hom gehad."
Die beampte wat die twee gestop het was woedend en het hulle amper tronk toe gestuur.
Jacob het nog die oorspronklike oefenhemp waarin hy sy eerste Comrades gehardloop het. Sy twee grootste aanhangers was sy ma en sy Tannie Katie. Hulle is albei oorlede - sy ma in Desember 2016 in die ouderdom van 81, en Tannie Katie, sewe maande later, in haar 93ste jaar.
"Ek is 'n suikerlyer en ek het athritis in beide knieë, maar dit pla my nie," vertel Jacob met 'n vrolike glimlag.
Ván Jacob Karelse se trofeë wat hy as Harriers-klubdeelnemer by wedlope verower het.
Wanneer mense Jacob vra hoekom hy die Comrades aanpak, sê hy daar is drie aspekte wat uitstaan: die pyn en die klaarmaak. Dis die moeilikste. En dan is daar die aanmoediging van die toeskouers. "Dit is fantasties. 'n Mens moet dit self hardloop om te beleef en vir ander te vertel."
Wanneer die volkslied, Nkosi Sikelel' iAfrika en die Chariots of Fire-temalied aan die einde van die Comrades gespeel is, voel 'n deelnemer besonder spesiaal, meen Jacob.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'