GROOT BRAKRIVIER NUUS - Die gemeenskap van Groot-Brakrivier kom nog tot verhaal na die skielike afsterwe van die skoolhoof van Groot-Brakrivier Sekondêre Skool, Angela Muller. Sy is op Kersdag aan 'n hartaanval oorlede.
Honderde leerders het die begrafnisdiens op Saterdag, 4 Januarie by die NG Kerk in Watsonialaan bygewoon.
Muller is op 24 Oktober, 1959 gebore en was 36 jaar in diens van die onderwysdepartement. Sy het vir 15 jaar as adjunkhoof gedien en was die afgelope vier jaar die skoolhoof van Groot Brak Sekondêr.
Haar kinders, Corinne, Rowieda en William beskryf haar as 'n persoon wat lief was vir haar skool, personeel, leerders en familie. Muller se man, Randolph, is twee jaar gelede oorlede. Muller het die skool na nuwe hoogtes gebring en verlede jaar is daar 'n matriekslaagsyfer van 90% gelewer. Sy word deur haar familie en kollegas beskryf as 'n opregte persoon wat hard gewerk het.
"Ons as familie kan net dankie sê vir die 60 jaar wat 'n wonderlike mens soos Angela aan ons geleen is. Ons mis haar reeds."
Lees 'n verwante artikel: Skoolhoof se lewe gedenk
'Ons bring jou die nuutste Groot Brakrivier, Tuinroete nuus'