MOSSELBAAI NUUS - Herrie het op sosiale media losgebars nadat nog 'n haai wat deur hengelaars gevang is en weer vrygelaat is, op Fransmanshoek uitgespoel het. 'n Video van hengelaars wat 'n Mako-haai vang en op 'n rotsagtige gebied weer probeer vrylaat is in Oktober op Facebook versprei.
Dit het in 'n woordewisseling ontaard tussen die beweerde hengelaars en inwoners van Fransmanshoek, tot so 'n mate dat partye mekaar met regshulp gedreig het.
Die ongelukkigheid spruit uit 'n voorval op 27 Oktober. Beeldmateriaal wys waar die Mako-haai gevang word en weer tussen rotse vrygelaat word. Die einste haai het egter later die aand uitgespoel.
Dit volg op 'n soorgelyke voorval op 4 Oktober by Stilbaaitjie, waar 'n 208kg haaiwyfie gevang is en die volgende dag dood uitgespoel het. Volgens die Fransmanshoek-bewarea was die tweede haai minstens 360cm lank.
Die bewarea sê hoewel hulle nie by die voorvalle betrokke is nie, dit 'n bekommernis is.
"Ons het op die haai afgekom en het die video gesien wat op sosiale netwerke versprei is. Twee haaie wat uitspoel in 'n maand is kommerwekkend. Ons sal moet besin oor wat ons kan doen om te verhoed dat dit gebeur."
'n Inwoner van Fransmanshoek sê mense wat bewaringsbewus is raak toenemend geïrriteerd met sulke voorvalle. "Dit is nie uitgesluit dat vertoë gerig gaan word om haaivangste te reguleer nie. Dit sal waarskynlik gepaard gaan met afdwingbare regulasies wat sinvolle haaivangpraktyke van bewaring gestalte gee."
Verwante artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'